Top Achievers (Hoërskool Riebeeckrand)

BREËBORS OOR 2019 SE MATRIEKUITSLAE

Hoërskool Riebeeckrand staan al jare bekend vir hul uitstekende akademiese onderrig en prestasies. Riebeeckrand se matriekgroep van 2019 se uitslae en topprestasies kan nie anders as om hierdie trotse rekord voort te sit nie.

Riebeeckrand spog breëbors met hul 2019-matriekgroep se uitslae. 61 Onderskeidings is deur dié groep ingepalm waarvan een leerder met 7 onderskeidings geslaag het. Een leerder het met 5 onderskeidings geslaag en ‘n verdere vyf leerders met 4 onderskeidings en twee leerders met 3 onderskeidings. Die graadgemiddeld is 56,8% en die graadstudietoelating ‘n skitterende 71,4%.

Franco Venter is 2019 se Dux-leerder. Hy het matriek met ‘n gemiddeld van 91% geslaag en spog met 7 onderskeidings. Franco gaan vanjaar ‘n Aktuariële Wetenskap-student by die NWU-Pukke wees. Riebeeckrand wens hom en al die matrieks van 2019 sterkte toe met hul toekoms.

Die personeel van Riebeeckrand is toegewyd en stap voortdurend die ekstra myl vir hul leerders.

Met so ‘n dinamiese groep personeellede kan vakgemiddelde nie anders as om indrukwekkend te wees nie.

Enkele voorbeelde van sulke vakke:

Toerisme is ‘n vak wat met hope entoesiasme en ervaring by Riebeeckrand aangebied word. Me. Rina Botha is al etlike jare in die onderwys. 2019 se Toerismeleerders het ‘n graadgemiddeld van 68,6% behaal, 6 onderskeidings en 100% slaagsyfer.

Visuele Kunste het ‘n spoggerige graadgemiddeld van 65,8% en 100% slaagsyfer. Me. Varuska Denysschen is ‘n jong, maar ervare kenner op die kunsgebied.

Dramatiese Kunste word sedert 2017 by Riebeeckrand aangebied. Me. Leona Esterhuyse is ‘n dramafoendie en die matrikulante se punte kan daarvan getuig. Dramatiese Kunste se graadgemiddeld is 67,9% en het 100% slaagsyfer.

Mnr. Stephan Earle en me. Bertha van Zyl het vir die matrikulante English First Additional

Language aangebied. Hulle uitmuntende taalvaardigheid en begrip vir voorgeskrewe werk vergemaklik die proses vir die leerders om Engels onder die knie te kry. Hulle spog met ‘n graadgemiddeld van 62,22% en 100% slaagsyfer.

Wiskundige Geletterdheid het ‘n graadgemiddel van 59,4% behaal, 100% slaagsyfer en 9 onderskeidings. Mnr. Migal van Zyl het homself uitstekend van sy taak gekwyt met die onderrig van die matrikulante.

Uitstaande vakprestasies: Franco Venter: 93% (Lewenswetenskappe), 91% (Fisiese Wetenskappe), 93% (Besigheidstudies), 88% (Wiskunde) en 86% (Rekeningkunde). Minette Biggs: 85% (Afrikaans). Melouise Mulder: 85% (Geografie). Vir Toerisme behaal Clarinda Dreyer 88%, Alicia Botha 87%, Zané Geldenhuys, Jacques Piek en Marlene Vrey elk 85%.

Me. Annelize van den Berg is ‘n dinamiese hoof wat haar personeel enduit ondersteun. Sy is baie trots op elke matrikulant en personeellid wat bygedra het tot 2019 se groot sukses en puik uitslae.

Franco Venter
7 Onderskeidings
Gemiddeld: 91%

Melouise Mulder
4 Onderskeidings
Gemiddeld: 82.3%

Minette Biggs
4 Onderskeidings
Gemiddeld: 81.7%

Eztia Saunders
4 Onderskeidings
Gemiddeld: 80.6%

Reyner Grange
4 Onderskeidings
Gemiddeld: 79.1%

Janeske Venter
4 Onderskeidings
Gemiddeld: 76.7%

Chrislene Potgieter
4 Onderskeidings
Gemiddeld: 73%

Back to top button