Jong Annalien beïndruk in die kryt

Die 16-jarige Annalien Wilken is nog nie eers twee jaar lank in die bokskryt nie en maak sy reeds opslae.

Randgate Boksklub se Annalien Wilken (16) spog met ‘n silwer medalje tydens die SA Amateurbokskampioenskappe in KZN.

Komende uit ‘n familie wat mal is oor die sport, het die boksgogga vir Annalien eers 18 maande gelede gebyt. Sy het sedertdien opslae in die kryt gemaak.

Leon Gonsalves, Annalien se afrigter, het verduidelik sy is boonop as kampioen tydens die Gauteng Kampioenskappe gekroon en op 23 September het sy as deel van die Gauteng-span in Tzaneen deelgeneem. Sy was verder die enigste bokser in die Wes-Rand Distrik wat aan die SA Amateurbokskampioenskappe deelgeneem het.

Annalien was natuurlik in haar noppies oor haar prestasie.

“Ek voel baie goed en hoop om volgende jaar die goud te vat tydens die SA’s,” het Annalien die Randfontein Herald vertel.

Sy bedank graag haar afrigters, Leon en Petri Wilken, wat altyd aan haar sy en in haar hoekie in die kryt is.

Vir toekomstige boksers het sy aangemoedig om hard te oefen en in hulself te glo.

“Ons as Randgate Boksklub is baie trots op Annalien. In ‘n kort tydjie het sy baie ver gekom en goed presteer. Ons glo dat sy in die toekoms baie ver sal gaan in die sport,” het Leon bygevoeg.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version