Sport

Pirates Groot Uitdaagreeks: Teine eerstes pak Pirates in halfeindstryd

Dit is die twee eerste spanne van Randfontein Rugbyklub en Pirates wat koppe sal stamp in die halfeindstryd van die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks hierdie Saterdag.

Randfontein Rugbyklub se eerste span pak Pirates op 7 September in die halfeindstryd van die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks.

Die eerste span van Teine het wel gelykop gespeel in hul laaste ligakragmeting teen Raiders (40–elk), maar hul plek in die uitkloprondte was reeds goed verseker, aangesien hulle boaan die puntelys gepronk het. Natuurlik was daar spanning tussen die eerste spanne van Raiders en Teine maar tog ‘n derby van groot karakter uit beide kampe. Driedrukkers vir Teine was Johan Swart, Bennie Beyleveld, Rudi Marx, Jacqone de Villers, Michael Tolmay en Josè Dias, terwyl Janco Tiedt met vyf doelskoppe geslaag het.

Teine se tweede span het toe gewys hul is ernstige aanspraakmakers vir die titel met ‘n 27–17 sege. Driedrukkers was Mornè Labuschagne en Dylan Viviers met Steff Calitz wat drie doelskoppe en twee strafskoppe oorgeklits het. Verder het die derde span ook nie teleurgestel nie en gemaklik 24–5 gewen. Dwayne van der Walt, Christo Hugo, Ewald Oberholzer en Ryan Strydom het elk een drie gedruk terwyl Ewald Oberholzer met slegs twee doelskoppe kon slaag.

Die o19-span het ook Randfontein trots gemaak met hul oorwinning van 19–14 terwyl die o21’s ongelukkig naelbyt 8–5 die knie moes buig.

Related Articles

Back to top button