Pirates Groot Uitdaagreeks: Pukke bring Teine terug aarde toe

Randfontein Rugbyklub se eerste span het hul eerste loesing in vanjaar se Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks beleef ná ’n nederlaag van 38–32 in Potchefstroom.

Randfontein Rugbyklub het onlangs weer teen NWU Pukke in die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks deelgeneem en hierdie keer was dit die studente se beurt om ná die wedstryde breëbors rond te loop.

Vyf ligawedstryde het verlede Saterdag by die Fanie du Toit-stadion in Potchefstroom tussen die twee rugbyreuse plaasgevind met al die studentespanne aan die wenkant.

Die dag het reeds op ‘n lae noot afgeskop toe Teine se o19’s met 77–7 geklop is. Anele Hlongwane was die enigste driedrukker met Bennie Paich wat met sy doelskop geslaag het. Teine se o21’s het ook kort daarna met hul hande op hul heupe gestaan ??met ‘n swaar nederlaag van 40–5. Sims Ncgutha was die driedrukker.

Franco Tiedt van Teine se eerste span.

Wat die seniors betref, het Teine se derde span 26–8 verloor met Steph Korb wat die drie gedruk het en Ryan Strydom wat ‘n strafskop verseker het.

Die tweede span het wel ‘n goeie stryd gevoer, maar steeds met 20–13 die knie gebuig. Ruan Booyens het een drie gedruk terwyl Steff Calitz een doelskop en twee strafskoppe oorgeklits het.

Teine se eerste span het ook alles gegee maar dit was nie goed genoeg in hul nederlaag van 38–32 nie. Johan Swart het twee keer die opponent se doellyn oorgesteek terwyl Jacqone de Villiers, Christo van Emmenis en Dylan Viviers elk met een drie gespog het. Janco Tiedt het twee doelskoppe en een strafskop behaal.

Rudi Marx.

Ten spyte van die loesing is Teine se eerste span steeds boaan die puntelys met 69 punte. Die span spog ook met ‘n indrukwekkende rekord in hul terugkeer na die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks vanjaar met 13 oorwinnings, een gelykop (teen Pukke) en slegs een nederlaag (ook teen Pukke). Pukke is dus in die tweede plek, Pirates derde en Wits vierde.

Teine speel hul laaste ligawedstryd teen Raiders Rugbyklub op Vrydag, 30 Augustus.

Boonop is dit bevestig dat Randfontein Rugbyklub reeds die gasheer sal wees vir die halfeindstryd op 7 September. Hul opponent sal wel eers na die Raiders-kragmeting bevestig word.

Exit mobile version