Pirates Groot Uitdaagreeks: Triomf vir Teine se vier spanne

Die Teine het sukses getoon tydens hul onlangse wedstryd teen Roodepoort om 'n plek in die Castle Lager Pirates Grootuitdaagreeks te verseker.

Die Teine het op hul tuisveld teen Roodepoort Rugbyklub gesukkel, maar het hul wenresep gewys en daarin geslaag om vier uit vyf wedstryde te wen.

Teine het op 9 Augustus werklik gewys waartoe hulle in staat is toe die o19-span Roodepoort met 34–15 verslaan het.

Die o21’s het ongelukkig deurgeloop en die wedstryd met ‘n skokkende 31–0 teen die opposisie verloor.

Teine se derde span het daarin geslaag om die opponerende span met ‘n uitstekende 41–5 oorwinning te klop. Azile Gqoladaa, Tiaan Beyleveld, Ryan Strydom, Eugene Willemse en Desire Serelepele het elk ‘n drie vir Teine verseker. Bandile Molema het drie drieë gedruk terwyl Ryan Strydom twee doele aangeteken het.

Franco Tiedt. Foto: Dominique Duvenhage.

Die tweede span was nie ver agter na hul oorwinning van 26–19 teen Roodepoort se manne nie. Ricardo Burger en Jaco Vewas het een drie gedruk. Ruan Booyens kon twee drieë verseker terwyl Steff Calitz groot impak gemaak het met drie doelskoppe.

Teine het vier van hul vyf wedstryde gewen. Foto: Dominique Duvenhage.

Die eerste span het geskiedenis op die sportveld gemaak nadat hulle hoë gees en tellings getoon het. Die manne het die opponente goeie pakslae gegee nadat hulle 73–0 aangeteken het. Daar was beslis groot feesviering onder die gemeenskap. Senzo Hlatshwayo, Morne Piater, Bennie Beyleveld, Justin Meintjies, Keagan Fortune, Rudi Marx en Janco Tiedt het elk ‘n drie gedruk. Franco Tiedt en Itu Mpete het elk twee drieë reggekry. Senzo het ‘n uitstekende doelskop behaal en Janco het weer geskiedenis gemaak toe hy agt doelskoppe verseker het.

Tydens die senior spanne se wedstryde het die o8-span ook twee wedstryde teen Digger Rugbyklub geniet. Een van die wedstryde was suksesvol met ‘n 5–0 oorwinning terwyl die ander wedstryd ‘n 4–0 verlies was.

Die Teine gaan op 17 Augustus ‘n taai wedstryd teen Wanderers Rugbyklub aandurf.

Exit mobile version