Duiweklub prestasies word beloon

Die Randfontein Resiesduiweklub is sterk aan die gang nadat hul 'n interklub prysuitdeling aangebied het.

Die Randfontein Resiesduifklub het fees gevier nadat hul prysgeld vir ‘n onlangse wedvlug geborg was.

“As ’n sport wat vir baie mense onbekend is, was pryse altyd iets wat lede self moes borg, maar soos wat finansies oor die jare begin knou het, het die pryse vir resies weggeval,” het klubbemarker Belinda Barkhuizen gesê.

Sy het verder gesê dat die British Town Derby Race een van die grootste wedrenne gedurende die seisoen is. Soveel so dat duiweboere spesifiek duiwe teel en ring vir die geleentheid.

Vanjaar het die duiweklub aan die wedvlug deelgeneem met die vermoede dat hulle nie prysgeld aan hul lede kon gee nie.

Juniorlid Christian Barkhuizen ontvang prysgeld vanaf Anton Saunderson.

Anton Saunderson van Prestige Paving and Tanks is inderdaad deur klublid Adriaan Diederiks se liefde vir die sport geïnspireer dat hy besluit het om prysgeld vir die duiweklub se wedvlugte te borg.

“Anton was so goedhartig dat hy nie net een wedvlug geborg het nie, maar al drie van die seniors se wedvlugte [Jong Duif Wedvlug, Ope Wedvlug asook die Sprints Wedvlug],” het Belinda gesê.

Sy het verduidelik die top drie lede in elke wedvlug het die prysgeld gedeel as hul beloning vir hul prestasies.

“Ons as die lede wil uit ons hart uit vir mnr Saunders bedank vir sy goedhartige borgskap!

“Dit is wanneer mense die liefde vir die sport in ons lede kan sien dat ons weet hierdie sport van ons is sowaar ‘n saak so na aan die hart. Om ‘n duiweboer te wees is werklik deel van ons persoonlikhede,” het sy uitgedruk.

Die Randfontein Resiesduiweklub.

Volgens Belinda het die duiweklub se senior lede saam besluit om die junior lede se wedvlugte te borg. Sy het die junior lede as topprioriteit beskryf aangesien hulle die toekoms van die sport is. Lede Clement Daniels, Coenie Barkhuizen en Adriaan Diederiks het elk bygedra tot die junior lede se borge.

“Ons wil dus ook hierdie staatmakerlede bedank vir hul bydrae tot die sukses van die klub! Met lede wat bereid is om altyd die ekstra myl te loop, weet ons ons sport is in goeie hande,” het Belinda opgemerk.
Die wenners in hul onderskeie kategorieë van die Interklub Brits Town Derbykompetisie is soos volg:

Senior Jong Duif Wedvlug:
• 1ste – H Groenewald
• 2de – A Diederiks
• 3de – C Daniels

Senior Ope Wedvlug:
• 1ste – C Daniels
• 2de – H Groenewald
• 3de – C Barkhuizen

Senior Sprint Wedvlug:
• 1ste – E Cordier
• 2de – M vd Walt
• 3de – G v Niekerk

Junior Jong Duif Wedvlug:
• 1ste – K Deysel
• 2de – D Lottering
• 3de – C Barkhuizen

Junior Ope Wedvlug:
• 1ste – K Deysel
• 2de – C Barkhuizen
• 3de – D Lottering

“Ons wil aan elkeen van ons lede baie geluk sê met hulle prestasies – julle hou die sport en ons klub se naam hoog!” het sy afgesluit.

Exit mobile version