Sport

Teine-seniors oorweldig Alberton

Al Randfontein Rugbyklub se seniorspanne was aan die wenkant teen Alberton.

Randfontein Rugbyklub se seniorspanne was witwarm teen Alberton in ‘n onlangse Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks-stryd by die House of Pain.

Vyf spanne van Teine was in aksie met die juniors wat albei die knie moes buig.

Die o19’s het slae gekry en 40–8 teen Alberton verloor, terwyl die o21’s ook 33–12 verloor het.

Toe kom die seniormanne …

Teine se derde span het die tuisklub terug op die wenpad gebring met ‘n sege van 13–7. Daar was Ruan Pieterse en Simphiwe Khumalo die driedrukkers terwyl Ryan Strydom een strafskop oorgeklits het.

Brandon Viviers in aksie teen Alberton. Foto: Ryan Keller.

Teine se tweede span was die spogspan op die dag en het 12 drieë gedruk om Alberton met ‘n telling van 81–5 te verniel. Brandon Viviers, Jaco Vewas, Akhona Tsharane en Thabiso Mothae het almal een drie gedruk, Eugene Willemse twee terwyl beide Morne Labuschagne en Dylan Viviers met ‘n driekuns elk gespog het. Verder het Dwayne van der Walt een doelskop, Steff Calitz drie doelskoppe, Jaco Vewas vier doelskoppe en Bandile Molema een doelskop verseker. Jaco Vewas het ook ‘n strafskop aangeteken.

Teine se eerste span het weereens nie teleurgestel nie en sewe drieë gedruk vir ‘n gemaklike oorwinning van 47–23.

Herman van Eck, Justin Meintjies, Itu Mpete, Michael Tolmay, Jacqone de Villiers, Christo van Emmenis en Keagan Fortune was almal die driedrukkers terwyl Janco Tiedt met vyf doelskoppe geslaag het en Keagan Furtune met een doelskop.

Related Articles

Back to top button