Teine-legende Oom Fergus oor sy liefde vir rugby

Op 94-jarige ouderdom gesels 'n Randfontein Rugbyklub-legende oor sy dae van rugby.

Nes die ysterslot Frik du Preez ‘n rugbylegende vir Suid-Afrika is, is oom Fergus Conn (94) Randfontein Rugbyklub se eie Naas Botha.

Fergus se liefde vir rugby het reeds op die ouderdom van sewe begin toe hy vir die eerste keer ‘n rugbybal optel. Hy het op laerskool gespeel maar is op die ouderdom van 12 uit die skool en het nie met sy rugby aangegaan nie.

Op 13 het hy by die poskantoor begin werk waar hy telegramme afgelewer het.

In 1948 het hy Randfontein toe getrek waar hy eers vir Randfontein Estates gespeel het. Die volgende jaar het die klub toegemaak en Randfontein Rugbyklub het oopgemaak. In 1952 is hy terug Kaapstad toe en die volgende jaar het hy vir Vanrhynsdorp gespeel. Tussen 1955 en 1956 het hy ook in Kuruman gespeel voor hy weer besluit het om na Randfontein terug te keer.

Die posisie wat hy gespeel het was losskakel. Hy was eers kaptein vir die span voor hy gekies is tot voorsitter en keurder. In ongeveer 1967 het hy egter sy tokse opgehang.

Behalwe vir rugby het Fergus ook krieket en hokkie gespeel.

“Ek het alles geniet maar was besonder trots op my skopwerk pale toe. Ek het selde misgeskop. Ek het Sondagmiddae net aan my skopwerk geoefen,” het Fergus gesê.

Hy het ook vertel toe hy harsingskudding opgedoen het en hospitaal toe geneem is. Hy het uit die hospitaal gehardloop nog in sy slaapklere terug veld toe. Gelukkig het ‘n predikant wat op sy fiets verbygery het hom gewaar en gestop.

Van die Springbokke wat by die klub gespeel het toe hy daar was, sluit in Tiny Naudé, Johannes Arnold ‘Lofty’ Nel en Groot Piet Botha soos hy bekend was.

“Oefen, oefen en oefen. Maak ook seker dat wat jy doen, jy dit goed doen, en as jy ‘n swakplek het, erken dit en werk daaraan,” het hy aan huidige en voornemende spelers gesê.

Exit mobile version