Tienjarige Rappie kry goud in Bloem vir judo

Rappies se judo-boffin Nathan de Beer het tydens sy eerste nasionale kompetisie in Bloemfontein die oë laat rek.

Nathan de Beer (10), ‘n leerder van Laerskool Rapportryer het uitgeblink tydens sy eerste nasionale judo kompetisie in Bloemfontein.

Die geelbelt judo-boffin het in die amateur-afdeling, spesifiek vir seuns onder 38kg, deelgeneem en goud ingepalm.

“Die kompetisie was sterk maar dit het baie goed gegaan. Ek beskou dit as een van my trotste prestasies,” het Nathan gesê.

Nathan sê hy het judo as sport gekies met die doel om homself te kan verdedig. Hy is al vier jaar deel van die Golden Score Judoklub.

Sy huidiglike rolmodel is Mila Labuschagne, ook ‘n lid van die klub. Nathan beplan nou om harder te werk vir sy swartbelt.

“Wees elke dag positief, ongeag wat gebeur. Pak elke dag positief aan,” het hy gesê.

Nathan se ma, Sunel, is baie trots op haar seun.

“Hy is baie hardwerkend en het deursettingsvermoë. Ons weet hy gaan homself net aanhou bevorder en aan nog meer kompetisies deelneem.”

Exit mobile version