Randfontein Rugbyklub vier hul 75e bestaansjaar

Spelers van so ver terug as 1949 het onlangs by Randfontein Rugbyklub bymekaargekom om die klub se ryk geskiedenis te vier.

Randfontein Rugbyklub het ter ere van hulle 75e bestaansjaar ‘n reünie gehou waar selfs oud-spelers die dag saam kom geniet het.

Pieter Classen, organiseerder van die dag, het gesê, “Ek dink dit was ‘n groot sukses en bo ons verwagtinge met die opkoms van oud-legendes.”

Hy het genoem rondom 84 legendes het die dag bygewoon. Van die groot name wat die dag bygewoon het sluit in Richard Prentice, Eugene Eloff, Daan Badenhorst, Terance Steward en vele ander. Fergus Conn (94) is die oudste speler van die klub en het ook die dag saam met die ander kom geniet.

Eugene Eloff saam met Jan van Loggerenberg, president van Randfontein Rugbyklub. Foto ingestuur.

“Almal op die dag was helde en legendes op eie gebied.”

Hulle het hemde, hoedens en kussings uitgedeel as aandenkings. Verder het hulle ook ‘n ete genuttig voor hulle saam gekuier het. Die legendes het ook erewag gestaan vir die eerste span toe hulle op die veld uitgedraf het.

“Woorde kan nie beskryf hoe dit was om ou vriende weer te sien nie. Die kameraadskap tussen die manne was iets uit ‘n ander wêreld. Dit was net wonderlik,” het Pieter gesê.

Andre Bester en Richard Prentice. Foto ingestuur.

Die raad wat aan die huidige spelers uitgedeel is was, “Hou Randfontein se naam hoog en dra die groen trui met trots. Al die jare het hulle Randfontein toe gekom en geweet hulle sou in ‘n fisiese stryd betrokke wees. Groot name het vir ons gesê hulle het gebewe as hulle weet hulle speel op Randfontein se veld.

“Ons as legendes wens die spelers en afrigters sowel as die komitee alle voorspoed toe. Ons is trots op julle almal en hou die groen trui hoog. Ons doen dit weer volgende jaar,” het Pieter gesê.

Exit mobile version