Sport

Na 74 jaar nog net so aan die gang

Deursettingsvermoë en aanhou probeer is hierdie hardloper se geheim om nooit sy drome op te gee nie.

Butch Grobbelaar is vanaf 1997 al ‘n lid van die RandMark hardloopklub en gaan steeds so sterk aan soos die dag wat hy begin het.

“Hardloop is ’n sport wat jou nederig hou … veral die Comrades, wanneer jy wegspring is jy nie seker presies hoe goed jy gaan klaarmaak en of jy gaan klaarmaak nie,” het Butch gesê.

Butch het vir lank die Comrades-maraton gekyk en besluit eendag gaan hy ook daaraan deelneem. Hy het op 5 Augustus 1976 besluit hy gaan begin oefen.

Hy het sy eerste Comrades in ‘n tyd van 10 ure en 36 minute voltooi.

Oor die laaste 21 jaar het hy reeds 15 Comrades-maratonne voltooi en ook 11 Ironman-kompetisies.

Hy het genoem die ysterman-kompetisies het begin by die Vaal Rivier, alhoewel dit nie die regte ysterman-kompetisie was dit, aangesien daardie net in Hawaii op daardie stadium plaasgevind het. Dit het bestaan uit of swem of ‘n kano-wedren, fietsry en hardloop. Hulle moes vir 20km kano, 120km fietsry en 32km hardloop.

Die regte ysterman-kometisies het toe Gordonsbaai toegekom. Daar was die afstande 3.8km in die see, 180km fietsry en 42km hardloop.

“Die ysterman-kompetisie is vir my heelwat makliker as die Comrades, want as jy moeg geswem is klim jy op ‘n fiets en as jy moeg gery is, hardloop jy. Hulle breek die wedloop in drie afdelings op, wat vir my heelwat makliker is as om vir rondom 10 ure te hardloop sonder afwisseling,” het Butch bygevoeg.

Hy het genoem hy sal ander ook aanraai om te begin hardloop, hoewel die belangrikste is om net aan die beweeg te kom.

“Die beste tyd vir enige leefstyl verandering is 25 jaar gelede, die tweede beste tyd is nou,” het Butch gesê.

Hy het bygevoeg baie van sy vriende is ook hardlopers en ‘wanneer jy so bietjie saam gesweet het bou dit ‘n ander tipe vriendskap’.

In 2015 het hy weer begin perdry, wat hy as jong man jare terug gedoen het. Hy het toe ook aan die Fauresmith Uithourit in 2016 deelgeneem wat oor drie dae strek.

In 2018 het hy aan die Dusi Canoe-maraton deelgeneem en in 2019 dit voltooi.

“Dit was vir seker by verre die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het.”

Volgende mik hy vir die 2025 Comrades-maraton.

“Daar is geen einde aan wat mens kan doen en vir hoe lank mens dit kan doen nie. Ons kan almal altyd ‘n beter weergawe van onsself wees, in elke opsig. Dit kos net bietjie beplanning en deursettingsvermoë. Aan die mense oor 70, jy kan dinge terugkry wat jy gedink het jy alreeds verloor het.”

Related Articles

 
Back to top button