Sport

Christian se drome neem vlerke

Junior lid van die Randfontein Duiweklub is passievol oor sy duiwesport.

Die jongste lid van die Randfontein Duiweklub, Christian Barkhuizen, deel sy passie.

Christian (9) vertel dat sy familie nog altyd aan die sport deelneem. Selfs voor hy gebore is, het sy gesin reeds een voet in die sport gehad.

Hy verduidelik dat hy altyd saam met sy oupa en oom in die duiwehok doenig was. Nadat hy oud genoeg was om duiwe te vlieg, het sy oupa vir hom ‘n blou merker ringetjies gegee en hom vertel dat hy sy eie duif mag kies om mee te vlieg.

“Ek word groot in die duiwehok en ek gaan altyd saam na die klub toe. My familie ‘boer’ met die duiwe en ek geniet dit baie om ‘n duiweboer te wees nes my oupa en my oom,” het hy gesê.

Christian se oupa en oom is sy grootste inspirasie. Hy beskryf hul as die beste duiweboere. Hy vertel hoe hy opkyk na hulle omdat hulle nooit handdoek in gooi nie en hom baie lewenslesse leer. Hy wil eendag net soos hulle wees wanneer hy groot is.

Vir meeste van sy jong lewe is hy al betrokke by die duiweklub en vlieg al amper vier jaar met duiwe. Hy hou van elke aspek van die sport. Hy geniet dit graag om vroeg op te staan sodat hy die duiwe kan vang en met hul gaan oefen.

“Oupa maak altyd vir my lekker warm koffie en dan kyk ons heelpad huis toe of ons die duiwe in die lug kan sien. Ek hou daarvan om duiweklub toe te gaan, want almal is baie vriendelik en grap altyd met my. Hulle maak ‘n lekker vuur wanneer dit koud is,” het Christian vertel.

Christian het groot drome om eendag die Million Dollar Duiwe Wedvlug te wen. Hy wil ook sy hele familie trots maak en hy wil groei in die sport.

Hy het verduidelik dat dit ‘n redelike moeilike sport is.

“Wanneer ‘n persoon deelneem aan die sport, moet die persoon die regte kos vir die duiwe gee, die regte mediese versorging en die duiwe moet fiks wees maar nie moeg nie. Hy het bygevoeg dat ‘n persoon ook die regte duiwe moet kies vir elke wedvlug en die weer moet ook gepas wees.

“Daar is nie baie jong duiweboere nie. Ek sal graag wil hê daar moet sommer baie nuwe deelnemers wees want dit is ‘n baie lekker sport, almal is soos ‘n groot familie. Dis ook baie interessant want daar is so baie dinge wat jy leer en duiwe is ‘n wonderlike dier. Hulle is die Here se posmanne en jy word sommer vinnig lief vir elke duifie,” het Christian afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button