Sport

Onnies kan ook rugby speel!

Tiaan Nel dra twee hoedens – een as 'n onderwyser deur die dag en een as 'n rugbyspeler in die nag.

Tiaan Nel, ‘n Laerskool Rapportryer onderwyser en toegewyde rugbyspeler, se hart loop oor van trots.

In ‘n ekslusiewe onderhoud met die Randfontein Herald, het Tiaan beskryf hoe sy liefde vir rugby ontstaan het.

Volgens hom het sy passie van kleintyd af ontwikkel. Een van sy vroegste herinneringe was om vroegoggend saam sy pa wedstryde te kyk waar die Springbokke teen die All Blacks gespeel het.

Verder het hy vertel dat hy langs die veld grootgeword het. Sy pa het vroeër jare ook rugby as ‘n sport geniet en het later afgesluit as ‘n skeidsregter.

Tiaan is huidiglik betrokke by die Randfontein Rugbyklub se eerste span waar sy doel is om die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks te wen.

“Rugby het my geleer dat jy nooit moet opgee nie, maak nie saak hoe moeilik dit raak nie en ek dink ek probeer dit ook so oordra aan die leerders in die klas. Sport is vir my uiters belangrik in leerders se ontwikkeling. ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Leerders hoef nie die beste te wees nie, hulle moet net deelneem en deel wees!” het Tiaan vertel.

Hy rig die Goue Leeus se o12-span af en geniet nie net rugby as sport nie, maar neem ook graag deel aan krieket en atletiek. Wanneer hy nie op die sportveld besig is nie, werk hy as onderwyser.

“In die onderwys het ek baie mense na wie ek opkyk. As ek een moet uitsonder sal dit mnr Johan Venter wees. Hy het my al die ins en outs van die onderwys geleer,” het Tiaan uitgedruk.

Alhoewel Tiaan die sport baie geniet, het hy gedeel dat hy beplan om hierdie jaar klaar te maak met sy rugbyloopbaan om meer tyd saam met sy gesin te spandeer.

Daar is wel een les wat Tiaan aan die gemeenskap wil oordra, “’n Mens moet nooit opgee nie, want harde werk word altyd beloon.”

Related Articles

 
Back to top button