Sport

‘n Arend sal hulle bly

Daar is nie 'n ander trui wat twee jarelange spelers van Randfontein Rugbyklub oor hul kop wil trek nie, behalwe die een met die arend op.

Vir agterspelers Theo Calitz en Tiaan Nel, is Randfontein Rugbyklub vir hulle soos ‘n tweede huis.

Albei manne loop oor van die trots aangesien hulle vir meer as ‘n dekade deel is van dié klub.

Om te begin speel Tiaan vir die eerste span sedert 2012, gewoonlik losskakel, en daar is nie ‘n ander trui wat hy oor sy kop wil trek behalwe die een met Teine se arend op nie.

“Ek dink dis die kameraadskap by die klub wat dit so spesiaal maak. Dit voel vir my soos ‘n tweede heenkome.”

Tiaan verduidelik dat hy van kleins af met rugby betrokke geraak het en sy pa was selfs ‘n lid van die klub. Hy het toe homself net besig gehou langs die veld en alhoewel hy nie betrokke was nie, het hy daar rondgestaan met sy eie tokse aan.

“Dit is waar my liefde vir die sport ontstaan het,” sê Tiaan.

Op die ouderdom van ses en as graad 1-leerder het hy toe begin rugby speel.

Dit het uiteindelik daartoe gelei dat hy Teine verteenwoordig.

Tiaan Nel. Foto: Billy Sass.

“Die eerste keer toe ek vir Randfontein speel was vir my baie spesiaal. Ek was nog ‘n jong mannetjie wat saam met ‘n klomp ‘ooms’ moes speel. Daar was ‘n klomp legendes tussen daardie manne, maar hulle het my dadelik onder hul vlerk geneem en deel laat voel, asof ek hier hoort.”

Hy het aangegaan om te sê sy beste herinnering was toe hulle in 2015 teen Roodepoort Rugbyklub op Ellis Park gespeel het. Die kragmeting het wel gelykop geëindig. Nog ‘n hoogtepunt was toe Teine hierna vir Roodepoort die eerste keer in 11 jaar kon klop. Om die Senior Groot Uitdaagreeks vir die afgelope twee jaar te kon wen was vir hom ook ‘baie spesiaal’.

Oor die toekoms het Tiaan gesê, “Ek hoop die jonger manne sal deurkom en aanhou speel by die klub. Die klub is op ‘n goeie plek en ek glo en vertrou dat ons net hoër hoogtes gaan bereik.”

Theo Calitz, wie gewoonlik as vleuel diens doen, is hierdie jaar ‘n merkwaardige 19 jaar lank deel van die Teine-familie. Hy het in Maart 2005 sy buiging gemaak.

Selfs hy noem dat die klub nog altyd sy tuiste is. Sy pad in rugby het wel op die ouderdom van agt begin toe hy Bulletjie-rugby by Laerskool Rapportryer gespeel het.

Oor sy heel eerste wedstryd vir die klub het hy gesê, “Hoe bang en op my senuwees was ek nou nie. Ek was maar net 18 en die ander manne het al harde baarde.”

Theo Calitz. Foto: Billy Sass.

Sy gunsteling herinnering by die klub is die vriendskappe wat oor die jare gevorm is.

“Vir die toekoms hoop ek om net van krag tot krag te gaan en hopelik kan ons vanjaar die halfeindstryd bereik in die Pirates Groot Uitdaagreeks.”

Hennie van Eck, direkteur van rugby by die klub, het bygevoeg Randfontein Rugbyklub lê na aan almal se hart.

“Die spelers is almal vriende en broers en ek dink ons het ongelooflike talent by die klub. Dit is duidelik as jy kyk wat ons al bereik het, maar is nog baie om voor te speel,” het Hennie gesê.

Hy het afgesluit deur te sê Tiaan en Theo het nog baie rugby in hulle en tesame met ander spanmaats mik die klub om te wys wat in hul steek in die Pirates reeks.

Die Goue Leeus Rugby Unie het juis onlangs die groen lig gegee dat al ses spanne van die klub in vanjaar se Pirates reeks sal deelneem – ‘n eerste sedert 2017. Hulle het in 1999 laas dié gewilde liga gewen.

Related Articles

 
Back to top button