Sport

Pirates Groot Uitdaagreeks: Goue Leeus gee Teine groen lig

Dit is amptelik! Die Goue Leeus Rugby Unie het die groen lig gegee dat al ses spanne van Randfontein Rugbyklub in vanjaar se Pirates Groot Uitdaagreeks sal deelneem – 'n eerste sedert 2017.

Dit was ‘n geswoeg en gesweet, maar Randfontein Rugbyklub kry hierdie seisoen die kans om aan die Pirates Groot Uitdaagreeks deel te neem.

Die spanne wat almal in aksie gaan wees is Teine se eerste, tweede, derde, o21-, o19- sowel as hul vrouespanne. Die besluit kom na ‘n sitting deur die uitvoerende komitee van die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU).

Na die promosie-relegasie wedstryde op 9 Maart, het die komitee ‘n noodvergadering op 12 Maart gehou waar daar besluit is op die beste weg vorentoe vir die GLRU. Daar is onder ander bespreek wat die beste manier sal wees om die klubliga-sisteme te versterk. Verder wil hulle die SA Rugby beginsels van massa deelname en geleenthede vir spelers, afrigters, spanbestuurders en ook administrateurs tot op die hoogste graad uitvoer.

Daarbenewens, na deeglike telefoniese konsultasies met deelnemende klubs aan die huidige Pirates Grand Challenge, is daar eenparig besluit deur al 10 uitvoerende komiteelede, en ses van die agt klubs, dat Randfontein Rugbyklub sal deelneem and die uitdaagreeks.

Klubs ten gunste van Teine se deelname in die liga was Raiders, Wanderers, Universiteit van Johannesburg (UJ, Noord-Wes Universiteit (NWU Pukke), Wits en Alberton. Klubs teen die besluit was Roodepoort en Pirates. Teine is dus die negende klub wat aan vanjaar se reeks deelneem. Volgens die GLRU is die bepalings nog nie beskikbaar nie.

Teine se direkteur van rugby, Hennie van Eck, wat in die sewende hemel is, het gesê, “Ons is baie bly as klub asook dorp. Ons het baie hard gewerk om te kom waar ons is. Almal is baie opgewonde – van die afrigters, spelers, komitee en self toeskouers. Die spelers verdien dit en ek dink baie van hulle wil nou hulself toets en bewys teen die beste in die hoogste liga.”

Volgens Hennie is dit egter nie die eerste keer wat Teine aan die liga deelneem nie. Hul mees onlangse deelname was gedurende die 2016/ 17 seisoene en het selfs die liga in 1999 gewen.

“Dit is harde werk wat nou voorlê. Ons weet wat om te verwag,” het Hennie afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button