Sport

Randfontein se Rachelle bereik professionele rugbystatus

Die plaaslike vrouerugbyspeler en 'n Bulls Daisie ontvang amptelike beroepskontrak.

Dit is nou amptelik. Rachelle du Plessis eet beslis nie van die vloer af nie en weet ook nie van verloor af nie.

Randfontein se kranige vrouerugbyspeler vertel dat sy vir ongeveer ‘n jaar deel is van die Bulls Daisies-groep, maar dat die Blue Bulls maatskappy onlangs vir haar ‘n amptelike professionele kontrak aangebied het.

“Dit beteken dat ek nou voltyd rugby speel en op die hoogste vlak moontlik afrigting ontvang. Hierdie geleentheid maak dit moontlik vir my om eendag vir die Springbok vrouerugbyspan te speel,” het Rachelle met trots gesê.

Rachelle du Plessis is nou ‘n trotse Blou Bul. Foto: © BBCo/Bullls Daisies.

Die Herald het in 2023 berig hoe sy met ywer deelneem aan drie gewilde sportsoorte wat rugby, motorsport en CrossFit insluit.

Haar gunsteling deel van rugby is die fisiese aspek en haar rugbytalent en prestasies spreek boekdele. Nie net is die Bulls Daisies as die SA Rugby Vroue Premier-kampioene gekroon in 2023 deur die Westelike Provinsie met 69–8 in die eindstryd te verslaan nie, maar spog ook met wegholoorwinnings van 105–0 teen die Leeus, 107–3 teen die Haaie en 104–0 teen die Oostelike Provinsie.

• Lees ook: Rachelle die Super-sportvrou

Rachelle vertel dat sy ‘n klomp rolmodelle as inspirasie vir haar rugby-pelgrimstog beskou, maar sê dat Schalk Burger ook ‘n groot invloed op haar rugbyloopbaan gehad het. Haar toekomsplanne in rugby sluit in om vir nog ‘n paar jaar die Bulls Daisies te verteenwoordig en beoog dan om vir die Springbok vrouespan tydens die 2025 Rugbywêreldbeker uit te draf.

Hierdie jaar wil sy haar beste gee en las by dat die res van haar planne ‘in God se hande is’.

“Rugby is belangrik vir my omdat ek myself kan uitleef op die rugbyveld. Bly op jou knieë, wees dankbaar en werk hard,” sluit Rachelle af.

Hoogtepunte in Rachelle se rugbyloopbaan:

• Rachelle het eers in 2022 begin rugby speel vir Randfontein Rugbyklub se vrouespan
• Na haar eerste wedstryd vir Randfontein het die Mastercard Lions haar genooi vir ‘n oefenkamp in November 2022
• In Januarie 2023 het Rachelle begin oefen by die Universiteit van Pretoria en nog voor sy ‘n wedstryd kon speel het die Bulls Daisies haar genooi vir ‘n oefenkamp. Teen Julie daardie jaar het sy toe reeds drie wedstryde vir die span gespeel
• Sy ontvang die 2022 Sportvrou van die Jaar toekenning by Randfontein Rugbyklub

Related Articles

Back to top button