Laerskool Randfontein-leerder wys wat in haar steek op atletiekveld

In 'n familie met 'n passie vir sport sit Maddison Broodryk hierdie tradisie voort.

Maddison Broodryk skitter op die atletiekveld en spog met uitstekende uitslae wat sy onlangs tydens ‘n atletiekbyeenkoms behaal het.

Die byeenkoms is deur Rapportryer aangebied waar die graad 7-leerder, wat ook RAM se onderhoofdogter is, aan die 1 500m asook die 800m deelgeneem het en ‘n eerste plek in albei items behaal het. Sy het ook aan hoogspring deelgeneem en ‘n vierde plek behaal.

“Ek kompeteer nooit teen enigiemand behalwe myself nie. Met elke byeenkoms moet ek my eie tyd verbeter. Dit gaan nooit oor wen nie maar eerder om myself konstant uit te daag. Op die dag was ek tevrede want ek het my tye verbeter,” het Maddison gesê.

Sy neem al sedert sesjarige ouderdom aan atletiek deel en doen ook CrossFit en netbal.

“Hardloop was nog altyd my passie. Ek het ook ‘n sportiewe familie. Ek het ‘n paar jaar gelede Rickus Kruger as my privaatafrigter gekry wat die beste in my uitbring.”

Sy moedig ander kinders met dieslfde passie om nooit op te hou doen waarvoor hul lief is nie.

“Atletiek leer jou baie dinge soos self dissipline, spanwerk, uithouvermoë, deursettingsvermoë en hoe om te groei wanneer jy geval het.”

Sy voeg by dat dit ‘n persoon help om ook ‘n gesonde leefstyl te handhaaf en hard te werk.

“Sport help my groei en vorm my as mens,” het Maddison verduidelik.

Haar ma Lucinda vertel hulle is só trots om te sien met hoeveel passie en oorgawe sy alles aanpak en haar talente ten volle gebruik.

“Trots om te sien hoe sy as atleet groei en verbeter en die beste weergawe van haarself word. Trots oor haar ongelooflike sportsmansgees en hoe sy ander inspireer.”

“Visie is krities as jy dit kan sien en dit wil hê! Gaan haal dit!” het Maddison afgesluit.

Exit mobile version