Sport

Jong ondersteuner draf saam met Lions uit

Laerskool Randfontein-leerder Sumari Botes is 'n trotse Lions-ondersteuner en om saam met haar span uit te draf op Loftus was natuurlik die hoogtepunt.

Die 11-jarige Sumari Botes van Greenhills se droom om eendag die Lions-rugbyspan te ontmoet is onlangs bewaarheid.

Die Laerskool Randfontein-leerder het onlangs vir ‘n Vodacom gelukbringer kompetisie ingeskryf wat sy gewen het. Die gelukkige wenner is dan die geleentheid gegun om saam met die Lions-rugbyspan uit te draf wat Sumari met albei hande gegryp het. Op 27 Januarie was die groot dag toe sy voor in die koor uitgehardloop kom met haar helde agter haar tydens ‘n Verenigde Rugby Kampioenskap-kragmeting tussen die Lions en Bulls op Loftus.

Die Bulls het wel naelskraap gewen maar vir die jongeling van Randfontein het dit nie gegaan oor wen of verloor nie, maar eerder oor jou ondersteuning te wys vir jou helde – iets wat sy getrou doen vir die afgelope twee jaar.

Sumari Botes se rugby-droom is op 27 Januarie bewaarheid.

Maar rugby is nie die enigste sport na aan haar hart nie, sy geniet ook graag netbal. Sumari speel tans vir die skool se o12-netbalspan asook aksienetbal in haar vrye tyd vir onder andere die Randfontein Allstars. Sy neem ook jaarliks deel aan die 100m, 1 200m en spiesgooi-items en is ‘n lid van die gewilde RAM Extreme pom-pom span. Verder neem sy deel aan akrobatiese gimnastiek as buitemuurs aktiwiteit.

Wat akademie aanbetref spog Sumari met talle onderskeidings en het sy onlangs haar ereklere verwerf.

Haar huidige rolmodel is juffrou Sanrie Nel.

“As ek hard werk en my hart daarop sit kan ek enigiets bereik,” het Sumari glimlaggend vertel.

Sumari se ma, Ann-louise Botes was in haar noppies.

“Sy werk ongelooflik hard om haar doelwitte te bereik en presteer in alles wat sy aanpak. Ons is geweldig trots op haar,” het Ann-Louise afgesluit.

Related Articles

Back to top button