Sport

Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Wessel van Staden

Randfontein Rugbyklub se loskopstut stel homself voor aan die gemeenskap Ontmoet-'n-Teine-Boytjie-reeks.

Of dit nou as loskopstut in die skrum is, of as toegewyde pa, Wessel van Staden is stewig en standvastig in die lewe.

Wessel van Staden is ‘n lid van Randfontein Rugbyklub se eerste span en die Randfontein Herald het onlangs met hom gesels en amptelik voorgestel aan die gemeenskap in ons Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie-reeks.

Sy liefde vir rugby het begin nadat hy op sesjarige ouderdom ‘n rugbybal opgetel het en op 31-jarige ouderdom geniet hy steeds die sport in sy vrye tyd.

“Ek het ‘n passie vir rugby sedert my kinderjare. Toe ek rugby ernstig begin opneem het, het ek afrigters gekry wat my alles geleer het van die sport. Hierdie kennis het veroorsaak dat ek ‘n liefde vir rugby gekweek het,” het Wessel met ‘n glimlag vertel.

Wessel van Staden is loskopstut.

Hy het verder verduidelik dat hy rugby so lank as moontlik gaan speel solank as wat sy liggaam hom toelaat.

“As ek elke dag op die rugbyveld kan wees, dan sou ek,” het hy gesê.

“Ek wil nie 60 jaar oud wees en spyt wees dat ek nie solank as moontlik my geliefde sport kon doen nie.”

Wessel se grootste inspirasie as kind was Wessel Sylverster (Vleis) Engelbrecht.

Wessel van Staden tydens rugbyoefening.

“My hoofdoel is om my vrou en kinders trots te maak. Ek wil ook graag hê ons eerste span manne moet goed presteer sodat ons kan wys wat in ons steek in die Pirates Groot Uitdaag-reeks,” het Wessel vertel.

Volgens Wessel is sy grootste uitdaging om gewig af te skud en top fiks te word.

“Mens het maar ‘n paar kilos opgetel gedurende die vakansie, maar ons werk hard. Ek het intussen ook drie knie-operasies gehad wat ook ‘n groot uitdaging is.”

Sy gunsteling dag op die rugbyveld is wanneer hulle kragte meet op Saterdae, en as hy nie rugby speel nie dan vang hy vis.

Related Articles

 
Back to top button