Sport

RAM se Magdaleen blink uit op die krieketveld

Die 13-jarige Magdaleen Ernst se krieketprestasies loop oor.

Die 13-jarige Magdaleen Ernst se talent vir krieket het nuwe hoogtes bereik.

Annie Nolan, woordvoerder van Laerskool Randfontein, het bevestig dat Magdaleen onlangs gekies is om die Gauteng Lions se o13-meisiespan te verteenwoordig waar sy die oë laat rek het. Sy is ook as kaptein aangewys.

Sy het veral met kolf in hand beïndruk en tydens Streekweek vir dogters o13 ‘n briljante 73 viere en 20 sesse in totaal gemoker – die meeste van die toernooi. In totaal het sy ook 491 lopies aangeteken wat vier 50’s en een 100 van 136 insluit. Sy was ook aangewys as die beste kolwer en speler van die toernooi.

“Sjoe Magdaleen, ons is baie trots op jou,” het Annie bygevoeg.

Magdaleen vertel dat sy reeds op die ouderdom van agt vir die Lions begin krieket speel het. Haar passie vir krieket het gegroei nadat sy haar boetie, Brian, met ‘n krieketkolf en handskoene gesien het. Haar gunsteling aktiwiteit van krieket is kolf. Indrukwekkend genoeg is haar hoogste telling nóg van 211 behaal toe sy in die seunspan gespeel het.

Brian en Magdaleen Ernst.

Hierdie 13-jarige blink nie net uit in krieket nie maar is volstoom betrokke by spiesgooi, gewigstoot, Gauteng- skaak en netbal. Haar grootste inspirasie is haar afrigter Aldo van den Berg.

“Ons is baie trots op Magdaleen. Dit is werklik ‘n seëning. Die hoogtepunte wat sy bereik is merkwaardig. Sy presteer nie net op sportvlak nie, maar op akademie en kulturele vlak ook. Die mooiste ding van Magdaleen is beslis haar nederigheid,” het Magdaleen se pa, Gerrie vertel.

“Ons kan die Here nie genoeg bedank vir haar vele talente nie. Sy werk baie hard vir haar prestasies en ons is geweldig trots op haar,” het Magdalena, Magdaleen se ma, vertel.

Related Articles

Back to top button