Sport

Teine spog met wegholsege teen flou Wanderers in House of Pain

Randfontein Rugbyklub se eerstespan het 14 drieë gedruk en Wanderers met 90-0 kafgedraf tydens 'n Klub Kampioenskap kragmeting.

Dit was ‘n slagting.

Randfontein Rugbyklub se tuisveld staan nie verniet as die House of Pain bekend nie nadat beide sy eerste- en tweedespan met wegholseges van 90-0 en 45-0 onderskeidelik teen Wanderers gespog het in hul Klub Kampioenskap-kragmeting wat op Saterdag, 25 Februarie plaasgevind het.

Vir Willem van Loggerenberg, die Teine-eerstespan hoofafrigter, was die oorwinning oor die manne van die suide van Sandton so soet soos die naaste tuisnywerheid se koeksisters. Teine het 14 drieë gedruk danksy Hardus van Aswegen, Christoff Kleyn, Justin Meintjies, Brandan Rieck, Ricardo Burger en Bennie Beyleveld (elkeen een) terwyl Itu Mpete, Rudi Marx, Francois Pretorius en Gerhard Vorster elk twee keer gaan druk het. Tiaan Nel het geslaag met 10 doelskoppe.

Teine-eerstespan-haker Johan Swart storm voort met spanmaats wat ondersteun. Foto: Billy Sass

Die speler van die wedstryd was niemand anders nie as die slot Chistoff Kleyn, wat op die stadium sy beste rugby speel.

“Ons voorspelers het vir ons die grondslag gelê om goeie balbesit vir ons agterlyn te gee. Dit het dinge vir ons maklik gemaak om by ons strukture te hou regdeur die wedstryd. Ons het ook in die regte areas van die veld gespeel. ‘n Hoogtepunt vir my was ons verdediging en moet nie ‘n fout maak nie, ons moes met tye baie hard werk om Wanderers uit te hou.”

Volgens Willem was die wedstryd teen Wanderers weereens vir hulle ‘n goeie proefwedstryd om kombinasies te toets.

Ons gebruik die nuwe klub kampioenskap ter voorbereiding vir die liga wat volg. Dit was weer lekker om sulke hardlooprugby te kon sien asook ‘n groot skare by klubrugby te aanskou.”

Marvin Gwekwe van Teine se tweedespan sien ‘n gaping. Foto: Billy Sass

Oor sy opponente op die dag het Willem bygevoeg, “Ons wens Wanderers alle sterkte toe met die seisoen. Ons weet dat hulle ook van voor af bou, ‘n jong span het en dat hul weer een van die groot klubs in die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) gaan word.”

Willem se aftrigtingspan bestaan uit Jean-Louis Diemieniet (voorspelerafrigter), Hennie van Eck (direkteur van rugby) en die voormalige eerstespankaptein en uitblinker-flank, Manny Rodrigues (tegniese konsultant). Manny het verlede jaar afgetree.

Wat die juniors aanbetref het Wanderers se o21s verras deur 33-22 te seëvier. Ook aan die verloorkant was Teine se derdespan wat op die dag teen Vereeniging te staan gekom het en die knie 22-10 moes buig.

‘n Wanderers o21-speler vlieg in die lug na die Teine-slot Sibu Kgalapa se duikslag met sy spanmaat Theart Visagie links. Wanderers se o21s het goed gespeel deur 33-22 te wen. Foto: Clinton Botha

Vir die Teine-eerstespan en GLRU Senior Groot Uitdaagbeker-kampioen was dit hul tweede oorwinning sover na hul onlangse spogsege van 52-17 oor Rustenburg Impala.

Randfontein Rugbyklub pak nou volgende vir Raiders, weer by die House of Pain, op Saterdag, 4 Maart.

Related Articles

Back to top button