RandMark-bergfietsryers tot op uiterste beproef in Meyerton

RandMark-lede se uithou- en tegniese vermoë is onlangs in Meyerton beproef.

Die uithou- en tegniese vermoë van RandMark se bergfietsryers was tot die uiterste beproef tydens die Summer Fast One MTB-bergfietswedren in Meyerton.

Die wedren van ‘n allemintige 70km het op ‘n sonnige en warm Sondag, 22 Januarie plaasgevind.

Lees ook: Riebeeckrand hou interhuis

Paul Kitze, Thinus Forbes, Lee Kotze en Jan Kotze. Foto ingestuur.

Klubwoordvoerder Lee Kotze het vertel dit was hulle eerste wedren vir die jaar.

“Al die RandMarkers het gesê dat hul tegniese vermoë getoets was as gevolg van die terrein. Die roete het bestaan uit baie los klippe en dik sand op sommige plekke. Die meeste klimwerk is in die middel van die roete en ‘n paar van die RandMark-deelnemers het toe probleme met hul bande ervaar. ‘n Lid of twee het ook hier en daar geval maar daar is niks wat ‘n pleister nie kon gesond maak nie.”

Sy het verduidelik dat 2023 weer ‘n besige jaar gaan wees vir die RandMark-bergfietsryers. Die naweek van Saterdag, 28 Januarie gaan die klub juis saam Ottosdal toe en daar kan deelnemers kies tussen ‘n verskeidenheid afstande.

Lees ook: Ringbal ‘n familiesport

Paul Kotze maak die wedren klaar. Foto ingestuur.

“Ons het maandeliks ons genomineerde wedrenne en in Mei is dit die Race to the Sun [‘n 160km bergfietswedren wat in in Hartbeespoort begin en by Sun City eindig]. Dit is vir RandMark ‘n jaarlikse uitdaging en na die winter word die fokus weer op die 947 Ride Joburg MTB-wedren gesit wat in November plaasvind.”

Lee Kotze na die wedren. Foto ingestuur.

Lee het verder gesê dat wedrenne nou stadig maar seker terugkeer na normaal na die pandemie en dit maak RandMark-lede baie opgewonde.

“Hoe beter om jou te toets deur aan verskeie wedrenne deel te neem?” het Lee gevra.

Exit mobile version