KidsLocal newsPrimary SchoolSchool sportSport

RAM se boogskietspan toer na die Kaap!

Die boogskietspan het talle uitmuntende prestasies huistoe gebring.

Laerskool Randfontein se boogskietspan het tydens die skoolvakansie aan die AGA Interskole SA-boogskietkampioenskappe in die Paarl, Wes-Kaap deelgeneem wat vanaf Maandag, 3 Oktober tot Vrydag, 7 Oktober plaasgevind het.

Skoolwoordvoerder Annie Nolan het vertel dat daar in totaal 737 skuts was.

“Die twee beste skole van elke provinsie het aan die kompetisie deelgeneem. Die RAMkat-boogskietspan het uit 17 skuts, van Graad 6 tot Graad 7 bestaan. Die span het verbasend goed gevaar en ‘n algehele vyfde plek, uit 14 skole behaal en die span het tydens die laaste twee jaar hul posisie met twee plekke verbeter.”

Sy het vertel dat vier van die RAMkat-skuts in die provinsiale spanne opgeneem is en het tydens die AGA Interprovinsiale SA-boogskietkampioenskappe deelgeneem en tydens die kompetisie het al die Gautengse-spanne ‘n plek behaal. Die volwassenes en hoërskoolspanne het eerste plekke behaal en die laerskool en ontwikkelingspanne het tweede plekke behaal.

Annie het ‘n behoefte raak gesien by Hoërskool Riebeeckrand en Hoërskool Jan Viljoen se skuts om ook aan die toer deel te neem. Sy het die skuts die geleentheid om saam met haar toergroep te toer, gebied.

“Die Boogskiettoer het ook aan meeste van die skuts hul eerste geleentheid gebied om te vlieg en die Wes-Kaap se provinsie te sien. Dit was ‘n absolute belewenis gewees. Daar was gesorg vir menige uitstappies, soos na Tafelberg, die Kasteel, die Taalmonument, ‘n kaas- en wynplaas asook ‘n aarbeiplaas, wat ook die hoogtepunte van die toer was. Ons het lekker geskiet, maar die uitstappie na die strand was by vere die beste. Dis ‘n asemrowende ondervinding om vir die eerste keer die see te sien.”

RAMkat wil van die geleentheid gebruik maak om almal wat hulle gehelp het om in die Kaap te kom, te bedank.

“Die gemeenskap van Randfontein het hul harte en beursies vir ons oopgemaak. Julle maak ons trots om te sê ons kom van Randfontein af!”

Die toergroep by die Taalmonument. Foto ingestuur.
Die RAMkat-skuts. Foto ingestuur.
Christiaan Nolan wys hoe groot die aarbeie was wat hul gepluk het. Foto ingestuur.
Die toergroep by Fairview kaas- en wynplaas. Foto ingestuur.

Related Articles

Back to top button