Local sportSport

o.13-Cravenweek-toernooi: Die Leeus het rede om te brul

Hoërskool Monument het in 'n Leeukuil verander nadat die Goue Leeus se o.13's vanjaar se wenners is van die nasionale Cravenweek-toernooi.

Die Goue Leeus is vanjaar se wenners van die nasionale o.13 Cravenweek-toernooi na ‘n spogsege van 24–7 oor Boland op Vrydag, 1 Julie.

Die rustydtelling was 12–0 in die Leeus se guns.

Alles was op die spel vir die twee spanne – albei was nie net tot en met die finaal onoorwonne nie, maar hulle kan trots wees op die manier waarop hulle daar gekom. Die Leeus het OP, Blou Bulle en WP geklop, terwyl die Boland met SWD, Griekwas en Haaie afgereken het.

Ruan Bester van die Leeus.

Kort voor die afskop het Juan Boucher se bekende lied Die Leeus oor die sportterrein gedawer. Die volkslied is toe gesing wat weer daardie toetsatmosfeer geskep het.

Van die afskop af was dit skouer aan die wiel vir die Leeus wie se uitblinker agsteman Ruan Bester (Laerskool Dr Havinga) goed veld gewen het. Na slegs agt minute het die nommervier-slot Naledi Phiri (Laerskool Bekker) sy span se rekening geopen en gaan druk, met Herkie Kruger se seun Ethan, die losskakel (Laerskool Kenmare) wat die bal oorgeklits het. Ruan het kort hierna weer die verdedigers besig gehou nadat die res van sy voorspelers veld gewen het met ‘n rolmaalbeweging van ‘n goeie lynstaan af. Boland kry toe ‘n strafskop maar skop nie uit nie, en so byna was hulle weer in die moeilikheid. Die Leeus-vleuel kon egter nie besit behou nie.

Hanko van Geeden van die Leeus.

Met 12 minute oor het Leeus-flank Jayden Jubber (Laerskool Helderkruin) sy span se tweede drie reg langs die pale gedruk. Boland het tot in daardie stadium bitter min van die bal gesien, en toe hulle wel besit kry en die geleentheid kom, het hulle byna gaan druk maar die Leeus se verdediging was rotsvas.

Tydens lemoentyd met die telling 12–0 in die Leeus se guns is daar hard gepraat in beide kampe. Die begin van die tweede helfte was taai met albei spanne wat min foute wou maak. Eers in die 50e minuut het die deurbraak gekom toe Ruan oorbars vir sy drie. Die mannetjie was omtrent ‘n handvol. Kort hierna druk Boland, maar dit was ongelukkig te laat. Met die telling 17–7 en net ses minute oor het die Leeus die finale spyker in die Boland-doodskis geslaan toe die nommervyf-slot van 97kg, Hanko van Geeden (Laerskool President Steyn) oorgegaan het vir sy drie. Ethan maak toe ook geen fout met die doelskop nie.

In die doodsnikke het Boland alles gegee maar hulle kon net nie deur die trop Leeus se verdediging breek nie. Toe die eindfluitjie blaas het Hoërskool Monument in ‘n Leeukuil verander.

 

 

‘n Emosionele haker van die Leeus nadat die eindfluitjie geblaas het.
Die Leeus-spelers was baie emosioneel.
‘n Pa omring sy seun van die Leeus.
‘n Emosionele Leeus-afrigter.
Toe die eindfluitjie blaas het Hoërskool Monument in ‘n Leeukuil verander.

 

Related Articles

Back to top button