Daar wag groot dinge vir die Teine Girls

Rugby is nie meer net vir die manne beskore nie. Randfontein Rugbyklub se eie vrouerugbyspan het onlangs weer na 'n onderbreking op die veld uitgedraf.

Die Randfontein Rugbyklub se eie vrouespan, die Teine Girls, het op Saterdag, 28 Mei op die veld uitgedraf in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Ditau Diarora Women’s Rugby Club. Die wedstryd het by die Randfontein Rugbyklub, ook bekend as die House of Pain plaasgevind.

Hennie van Eck, Teine Direkteur van Rugby en een van die afrigters van die vrouespan het vertel dat die wedstryd goed verloop het en dat hulle verbaas was deur die vroue se spel aangesien nog net twee van die 15 vroue tevore rugby gespeel het.

Die Teine Girls het die dag alles gegee maar ongelukkig het die Ditau Diarora-vroue vir die Teine Girls met 15–0 geklop.

Dertien van hulle het nog nooit rugby gespeel nie en om na net drie weke se oefen 15–0 te verloor teen ‘n klub wat in ‘n liga speel, is baie goed,” het Hennie verduidelik.

Hy en sy mede-afrigter Ian van Wyk sien daarna uit om vorentoe verder met die vroue te werk.

“Dit sal natuurlik van hier af net beter gaan. Daar is beslis nog baie werk oor maar dit het beter gegaan as wat ons gedink het dit sou wees.”

Twee verdedigers probeer vir Roseanne Stewart grond toe bring. Foto: Michelle Roodt.

Hulle nooi steeds vroue uit om by die Teine Girls aan te sluit.

Hennie het vertel dat Bubie van Niekerk en Alex Raubenheimer in 2003 ‘n vrouerugbyspan op die been gebring het wat tot en met 2009 aktief was. Hierdie twee afrigters het groot sukses met die vrouespan behaal en albei het in 2004 daarvoor erkenning gekry toe hulle as afrigters van die Goue Leeus Vrouespan aangewys is.

Randfontein het ook ‘n hele paar Goue Leeus-vrouespelers opgelewer, maar die twee wat uitgesonder kan word is Wilmien du Plooy en Yolandie Austin. Wilmien was in 2004 die eerste Randfontein-speler wat as kaptein van die Goue Leeus Vrouespan aangewys is, en Yolandie het in haar spore gevolg en was van 2007 tot 2010 kaptein van die Goue Leeus Vrouespan. Dit is ‘n baie groot prestasie.”

*Artikel is bygewerk — Redakteur.

Burnadette van den Berg hardloop met die bal. Foto: Michelle Roodt.
Shunny Bothma kies koers doellyn toe. Foto: Michelle Roodt.
Exit mobile version