School sportSport

Waar die lus vir rugby begin …

In die afgelope paar weke is verskeie TAU-, jeug-, mini- en TAG-rugbywedstryde regoor die Wes-Rand gespeel. Goue Leeus Laerskole Rugby Unie (GLLRU) praat met die Herald oor die geskiedenis van TAU- en TAG-rugby en die strukture van juniors binne die GLRU.

Jean de Villiers, Frik du Preez, Bryan Habana, Mannetjies Roux, Victor Matfield, Bakkies Botha, Cheslin Kolbe, Jannie Engelbrecht, Heinrich Brussouw, Danie Gerber, Tendai ‘Beast’ Mtawarira, Carel du Plessis en Jan Ellis.

Dit is net ‘n handjievol name op die lang lys van uitmuntende Springbokke wat almal iewers begin rugby speel het, en uiteindelik naam gemaak het.

In die afgelope paar weke is verskeie TAU-, jeug-, mini- en TAG-rugbywedstryde regoor die Wes-Rand gespeel.

Die Herald het spelertjies van plaaslike skole soos Kenmare, Protearif, Mullies, Monument Primary en Curro in Krugersdorp, asook Helderkruin, Florida en Roodekrans in Roodepoort, en Westgold asook RAM van Randfontein op kamera vasgevang en eerstehands gesien hoe die lus vir rugby weer onder die o.6- tot o.8-manne geprikkel word. Dit is tog in ons bloed.

Katlego Zulu en Thato Zimba van Westgold Primary saam met Jacques Fourie, voormalige Springbok en 2007-Wêreldbekerwenner.

Die vaste fasette en balvaardighede is na-tuurlik nie op die vlak van ‘n goeie Springbok-rolmaalbeweging of ‘n asemrowende All Black-agterlynbeweging nie want vir dié seuns is dit maar net die begin.

Daar is breëborstye soos wanneer jou rooikopseun deur ‘n gaping gaan, ‘n mooi drie druk, selfs sy opponente in hul spore stuit of met trots die ‘tag’ gryp, maar dan ook tye wanneer hy verkeerde kant toe koers kies, heeltemal vergeet aan wie se kant hy is, of sommer soos Forrest Gump aanhou hardloop met die bal tot in die parkeerterrein. Intussen is al wat ‘n afrigter en ouer byderhand om óf iemand op te tel, ‘n traan af te vee, ‘n pleister op te plak of ‘n broek op te trek wat klaar te klein geword het.

Benjamin Gibhard duik oor vir ‘n drie vir Mullies. Foto: Clinton Botha

Louis Britz, wat op die Goue Leeus Laerskole Rugby Unie (GLLRU) se dagbestuur dien het oor die geskiedenis van TAU- en TAG-rugby gesels en die junior strukture van die GLRU verduidelik.

TAU-rugby (Zulu-woord vir welpie/ leeu) is die amptelike naam nadat dit eers Welpie-rugby genoem is. Dit is ‘n afstammeling van minirugby wat in 1970 in Engeland ontwikkel is om jonger spelers aan rugby bloot te stel. Elke land het sy eie formaat van minirugby aangepas en in SA is daar in die laat 90’s besluit om daarmee te begin. Elke unie het ook sy eie formaat van die spel, en almal se reëls is nie presies dieselfde nie.

“In die vroeë 2000’s het die skole in die Leeus-streke die Valke (Valkie-rugby) se minirugby begin speel. In 2007 is met Welpie-rugby in die Leeus-streke begin, en meer skole het daaraan begin deelneem. In 2008 het dit ‘n amptelike been van die Goue Leeus Laerskole Unie geword, en die naam is toe verander na TAU-rugby wat gebaseer is op die Blou Bulle Rugby Unie se Bulletjie-rugby. Van daar af het dit gegroei tot ‘n unieke spel,” het Louis verduidelik.

Janco Viviers van Protearif stamp sy opponent af.

TAG-rugbyspelers het Velcro-bande om hul lywe waaraan linte aan weerskante aan hul sye geheg word.

Aangesien volle kontak nog nie die kleintjies beskore is nie, pluk spelers hul opponente se linte af in plaas daarvan om hulle te lak.

Dié vorm van die spel is in die 1980’s in Gibralar ontwikkel omdat daar nie grasvelde was nie. Matrose wat die spel daar gespeel het, het dit toe in Engeland laat posvat. Nick Leonard, ‘n LO-onderwyser het reëls vir TAG-rugby in 1990 ontwikkel en die eerste toernooi is in 1991 gehou. Dit is later vir die o.6-seuns gebruik om kontak te vermy.

“Ons 0.6-seuns speel tans TAG, en die 0.7’s en o.8’s speel TAU (kontak). Daar is om en by 200 skole in die Leeus-streek wat aan TAU-rugby deelneem.”

Oor die strukture het Louis gesê, “Die junior afdeling van die GLRU word deur die GLLRU bestuur. Skole neem deel aan TAU-rugby en is meestal ouergedrewe, maar dis nie verpligtend nie. Daarna speel die o.9’s, o.10’s, o.11’s, 2des (o.12’s en o.13’s) en die eerstes volle 15-man rugby met reëls wat aangepas is vir laerskole. Daar is provinsiale spanne vir o.12- en o.13-seuns, wat dan in die Junie-vakansie aan provinsiale toernooie deelneem, net soos die hoërskole se spanne. Vanjaar is ons baie gelukkig want die GLLRU bied die o.13-toernooi by Monnas aan.”

‘n Roodie hol doellyn toe. Foto: Clinton Botha

Pieter Visser, algemene bestuurder by die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) het afgesluit deur te sê dat dit vir hom belangriker is dat die kinders eers die spel moet speel en dit geniet. Daar kan later na die detail van die spel gekyk word.

Wie weet, miskien draf jou rooikopseun eendag vir een van ons URC-spanne, die Franse Top-14 of selfs die Springbokke uit.

Dié mannetjie, Lelethu Radebe van Curro Krugersdorp, geniet sy rugby. Foto: Clinton Botha.

WAT SÊ BUCO HONEYDEW KHOSA RUGBYKLUB:

Pieter de Villiers, Buco Honeydew Khosa Rugbyklub se jeugvoorsitter het gesê, “TAU-rugby gaan daaroor om die ouens so vinnig as moontlik in die spel te kry en samehorigheid te kweek. Vir ons as ‘n klub is dit belangrik om ou rugbytradisies aan die lewe te hou. Nie elke ou gaan ‘n Springbok word nie maar die sport het ‘n manier om die seuns op te voed. Elke kind moet behandel word soos ‘n Superstêr. Die pelle wat jy maak … rugby het net ‘n manier om vriendskappe te smee.

As voorsitter is dit belangrik om outjies betrokke te kry. Ons probeer ‘n tipe mentaliteit kweek dat jy dit vir die pret doen. Jong seuns is te maklik op die fone. Ons probeer om hom in ‘n spanverband te kry, aktief te wees. Enige sport, spesifiek rugby, berei jou selfs voor vir die stampe en stote in die lewe; dit leer jou hoe om te wen en te verloor.

“Nie elke Springbok het by TAU-rugby begin nie maar dit het ‘n plek. Dit het basies destyds ‘tuinrugby’ vervang. Waar ons vier ure lank in die erf gespeel het, is TAU-rugby meer georganiseerd en gestruktureer. By Khosa is afrigting belangrik en as jy ‘n jong outjie op ses-, sewe- en agtjarige ouderdom reeds die regte vaardighede kan leer, kan dit die grondslag lê vir later. Hoe vinniger hoe beter.

“Ons het ‘n jeugafdeling en begin reeds met sesjariges. Covid-19 het wel rugby seergemaak maar soos ‘n speler platgetrek word op die veld sal ons net weer moet opstaan, jouself afstof en voortgaan.”

‘n Kruiner probeer wegkom van ‘n Florida-opponent. Foto: Clinton Botha.

DOELWITTE VAN TAU-RUGBY:
• Om jong seuns ‘n voorsmakie van 15-man rugby te gee
• Om basiese rugbyvaardighede te ontwikkel
• Om ‘n passie vir rugby te ontwikkel
• Om selfvertroue met vaardighede te ontwikkel
• Deelname eerder as wenmotief
• Ouer betrokkenheid, veral op afrigtings- en skeidsregtersvlak
• Om alle spelers, ongeag hul vaardighede kans te gee om te speel
• Span in plaas van die individu
• Individuele ontwikkeling van spelers

Dietrich Oosthuizen-Steenkamp van Protearif druk sy drie. Foto: Clinton Botha.

Related Articles

Back to top button