G’n uitdaging te groot vir RandMark nie

RandMark is trots op talle fietsryers wat weer vanjaar se uitdagende Race To The Sun aangepak en voltooi het.

Talle fietsryers van RandMark het weer vanjaar se uitdagende Race To The Sun met ywer aangepak.

Dit is ‘n 160km-fietsren wat by die oewer in Hartbeespoort begin en uiteindelik by Sun City naby Rustenburg eindig. By die eindstreep het familie, ‘n medalje en yskoue bier vir elke RandMark-lid gewag.

Volgens klubwoordvoerder Lee Kotze het vanjaar se Race To The Sun vir groot opwinding gesorg want waar daar verlede jaar net 11 RandMark-deelnemers was, het 21 vanjaar in die RandMark-kleure gery.

Ongelukkig moes twee deelnemers onttrek weens verkoue, wat vir Irene Jonker laat besluit het om op nommer 99 ook deel te neem en so Lanese Forbes se inskrywing oorgeneem het.

Lanese en Marius van Tonder het nie toegelaat dat verkoue hulle weghou nie en was daar vir ondersteuning. Die twee Randmarkers was by die halfpadmerk, reg om ‘n bottel vars water aan te gee, kos aan te dra en almal luidkeels aan te moedig.”

Volgens Lee het die grootste groep Randmarkers reeds Vrydag in Hartbeespoort gekamp waar raad uitgedeel is aan die nuwe ryers, strategieë bespreek en lekker baie geëet is om te sorg vir energie vir die volgende dag.

Die RandMark-groep na die Race To The Sun-wedren. Foto ingestuur.

Sy het vertel dat die dag koel begin het maar dat dit warmer geword het hoe nader hulle aan die eindpunt by Sun City gekom het.

“Die pad het sy uitdagings gehad aangesien baie dele verspoel was. Die sinkplaatpad tussen 80km en 110km het ryers se fisiese en sielkundige uithouvermoëns getoets, en dit was waar baie ryers die grootste knou gekry het. Dit was ook die stuk wat dié wat die tweede keer of meer die Race To The Sun aangepak het, die meeste gevrees het.”

Lizeth Rowan na die wedren. Foto ingestuur.

Al 21 van die RandMark-fietsryers wat by die beginpunt aangemeld het, het die wedren voltooi, en elkeen het sy eie verhaal van die roete vertel – van dié wat in die verkeerde groepe weggespring het, krampe wat baie teteister het, tot dié wat te laat besef het dat hulle te min geoefen het. Daar was egter ook dié ryers wat kon getuig dat die perfekte kombinasie van harde werk, genoeg slaap en reg eet hulle die vrugte laat pluk het.

Na die Race To The Sun ontvang elke ryer wat die afstand voltooi het ‘n medalje volgens hul algehele tyd – goud vir onder vyf ure, silver vir onder ses ure, brons vir onder sewe ure, en swart as jy die wedren voltooi het. Dit motiveer die ryers om volgende jaar terug te kom om ‘n beter tyd op te stel en ‘n beter medalje te probeer kry.”

Randmark is trots op almal wat die wedren vanjaar aangepak het.

“Ons het dit as ‘n groep gedoen en man, dit was lekker! Ons sou dit nie kon doen sonder die ondersteuning van ons vroue, mans, boeties, sussies, pa’s, ma’s, oupas en oumas wat vir ons by die eindstreep gewag het nie.”

Lee Kotze na die wedren. Foto ingestuur.
Die RandMark-fietsryers tydens die Race To The Sun-wedren. Foto ingestuur.
Exit mobile version