Honderde sportleerders besoek RAM tydens jaarlikse Goudfees

Altesaam 1 452 kinders het op Saterdag, 7 Mei aan rugby- en netbalwedstryde op Laerskool Randfontein se velde deelgeneem.

“Druk ‘n drie en gooi ‘n doel!” Dit was die mikpunt van menige Welpierugby- en Mininetbalspeler tydens Laerskool Randfontein se jaarlikse Goudfees wat op Saterdag, 7 Mei gehou is.

Skoolwoordvoerder Annie Nolan het vertel dit was die eerste Goudfees na Covid-inperkings, met 108 Mininetbalspanne van agt verskillende skole, en ongeveer 864 netbaldogters was betrokke.

Daar was 49 Welpierugbyspanne van 11 verskillende skole en ongeveer 588 rugbyseuns was betrokke.

Anè Tromp in aksie. Foto: Annie Nolan.

Sy het vertel dat altesaam 1 452 kinders op die betrokke Saterdag aan rugby- en netbalwedstryde op RAM se velde deelgeneem het.

Onder die skole wat daar verteenwoordig was, was Laerskool Dr Havenga, Laerskool Bekker, Laerskool Kenmare, Laerskool Rapportryer, Laerskool Bryanston Parallel, Laerskool Fochville, Laerskool Horison, Laerskool Westgold Primary, Laerskool Dagbreek en Laerskool Krugersdorp-Noord.

Liam Bouwer is kort op die hakke van Malebo Nell wat met die bal hardloop. Foto: Annie Nolan.

Volgens Annie het toeskouers en spelers vroeg reeds deur Laerskool Randfontein se hekke gestroom en die opwinding wat geheers het was duidelik te bespeur. By die ongeveer 34 stalletjies is feitlik iets van als verkoop – van eetgoed tot speelgoed.

RAM het oudergewoonte ons leeu – Ramkat – losgelaat om die spelers te vermaak en aan te moedig. Tess van der Walt en Stefan Jansen het die gaste verder vermaak met ‘n sangoptrede, en Laerskool Randfontein se RamExtreme-pompomgroep het ‘n pragtige optrede gegee.”

Die Goudfees was soos altyd ‘n reusesukses.

“Aan die personeel en ouers wat so fluks gehelp het om van die dag ‘n sukses te maak, en ons hoof Leon Haupt, ons innige dank. Laaste maar nie die minste nie, aan al die netbal- en rugbyspelers, julle het julle goed van jul taak gekwyt. Daar is ‘n paar potensiële Springbok- en Protea-spelers onder julle almal.”

Keagile Mokoena is baie tevrede. Foto: Annie Nolan.
Rethabile Phage mik om ‘n doel te gooi. Foto: Annie Nolan.
Zarion Venter soek ‘n gaping. Foto: Annie Nolan.

 

Exit mobile version