Skeie klap nog in die Weste

Spanne van regoor die land het onlangs bymekaargekom om aan die 79e Paardekraal Jukskeitoernooi by Kroningspark deel te neem.

Spanne van regoor die land het onlangs aan die 79e Paardekraal Jukskeitoernooi in Kroningspark deelgeneem.

Johan Rossouw, voorsitter van jukskei in die Wes-Rand Distrik het vertel dat 54 spanne onder andere van Polokwane, Leeupoort, Die Oog, Pretoria, Wes-Rand en Boksburg in verskeie afdelings deelgeneem het.

Bekende Protea-spelers soos Dirk Janse van Vuuren, Tinus Barnard, Gerrie Kotze, Christi Behr, Tharina Marais, Frikkie Wentzel en Thomas Venter het die dag aan die A-afdeling deelgeneem.

Karin Coetzee van die Gauteng Weermag-klub. Foto: Natasha Pretorius.

Ongelukkig moes hulle na net twee wedstryde in die A-afdeling noodgedwonge ophou speel weens reën.

“Die 40mm-reën wat geval het, het die bane onspeelbaar en gevaarlik gemaak. Daar is toe besluit om die dag se spel af te las,” het Johan gesê.

Hulle het die wenners volgens ‘n loting bepaal, en in die A-afdeling was Oom Dirk se span eerste gevolg geur Thaba Noka (tweede) en The Blues derde.

In die B-afdeling het The Dream Team eerste geëindig, gevolg deur die Albasters in die tweede plek en Always Late in die derde plek. In die C-afdeling het die Wes-Rand se o.19B-seunspan eerste geëindig, die Wes-Rand se o.13A-seunspan tweede en Spantou derde.

Daar is ook verskeie geskenkpakke uitgeloot en Denise Nel was die wenner van die GLOCK-geskenkpak ter waarde van R7 000, terwyl haar man Louis die Movember-kompetisie vir die indrukwekkendste snor gewen het.

Tinus Barnard in aksie.

Johan het vertel dat die pandemie ‘n negatiewe impak op sport gehad het, en ook op jukskei in die Wes-Rand Distrik.

“Buiten die uitdagings van die pandemie het vandale die klubhuis in Kroningspark gestroop van alle krane en pype, en in die proses alle wasbakke vernietig.”

Die nuwe bestuur het in April vanjaar oorgeneem. Hulle het dadelik aan die werk gespring en met die sportafdeling van Mogale City saamgewerk om die klubhuis te herstel. Die bane was ook oorgroei en verwaarloos – dié is intussen skoongemaak.

“Die stadsraad onder leiding van Ofense Lebethe, Les Heymans en Emanuel Mulaudzi het die mannekrag en die toerusting voorsien om nuwe lyne op die 32 bane te verf, waarvoor die bestuur innig dankbaar was.”

Die Kosmos-bane by die Greenhills Sportstadion in Randfontein is ook opgegradeer en die staanplekke oorgedoen.

“Die sandputte is met nuwe sand van hoogstaande gehalte vervang en die vernielde klubhuis is herstel. Daardie 24 bane wat tans daar is, gaan behoorlik in 2022 ingewy word!”

Jukskei is ‘n sport waaraan enigiemand tussen die ouderdom van agt en 92 kan deelneem.

“Jukskei word gereken as een van die uitdagendste tegniese sportsoorte naas paalspring en gholf! Vir ‘n jong deelnemer ontwikkel jukskei fyn hand-oogkoördinasie sowel as hul groot en klein spiere. Dis word boonop in die somer in die heerlike buitelug gespeel.”

Die juniors van die Wes-Rand gaan tussen 11 en 17 Desember aan die SA Juniorkampioenskappe in Kroonstad deelneem.

Johan het gesê dat ten spyte van die weer het almal die 79e Paardekraal-toernooi geniet en sien vreeslik uit na die 80e toernooi wat op 26 November 2022 plaasvind.

Indien jy belangstel om by die jukskei-liga aan te sluit wat op 22 Januarie hervat, skakel gerus vir Johan by 082 465 1242 (Krugersdorp) of Leon du Plessis 066 123 7469 (Randfontein).

Exit mobile version