Pantoffels, boeke vir Wêreld-hardopleesdag by RAM

Die leerders van Laerskool Randfontein het die kans gehad om pantoffels aan te trek en hardop te lees ter viering van Wêreld-hardopleesdag.

Leerders van Laerskool Randfontein se neuse was saam met dié van ander van regoor die wêreld diep in leesboeke begrawe op Wêreld-hardopleesdag op Woensdag, 2 Februarie.

Wêreld-hardopleesdag vestig reeds die afgelope 13 jaar die aandag daarop om stories te deel deur deelnemers uit te daag om ‘n boek in die hande te kry, mense te kry om voor te lees, en dan hardop vir hulle te lees. Hierdie wêreldwye poging wat die niewinsgewende organisasie LitWorld geskep het en deur Scholastic geborg word, word jaarliks in meer as 173 aangepak. Die gedagte is om mense byeen te bring en met mekaar te verbind deur hardop in al ons gemeenskappe te lees.

Graad 6-onderwyser Reinette Herbst het gesê dat hulle die dag by hul skool gevier het, en dat vdie leerders in verskeie klasse hardop gelees het.

“By die Graad 6-klasse het oom Johann Schutte, wat blind is, vir die leerders kom kuier en vir hulle geleer oor Braille en hoe mens dit lees. Hy het ook vir die leerders gewys hoe hy dit doen deur ‘n gedeelte uit sy Bybel te lees.”

Sy het vertel dat oom Johann ook vir hulle gewys het hoe werk sy foon en skootrekenaar.

“Hulle het dit vreeslik geniet en soveel vrae gevra. Dit was regtig interessant om te sien hoe hy dit doen, en die kinders daaraan bloot te stel.

“Almal was baie opgewonde want as die kinders wou kon hulle R5 betaal as donasie om nuwe leesboeke vir die skool aan te koop, en dan kon hulle pantoffels by hul skooldrag aantrek. Die kinders is ook daaraan blootgestel om hardop te lees.”

Exit mobile version