Atletiek is in haar bloed … nou leer sy die jonges

Gesoute kortafstandatleet gee 'n inspirende boodskap vir jong atlete met dieselfde passie.

Met die atletiekseisoen in volle swang het Louise Engelbrecht, wat vroeër ‘n briljante kortafstandatleet was, goeie advies met jong atlete met dieselfde passie gedeel.

Die 36-jarige Louise is van jongs af betrokke by atletiek en het goed daarin presteer. Sy was ‘n Suid-Afrikaanse kampioen in die 100m en 200m, en het ook haar Springbok-kleure verwerf.

Sy het nog nie haar spykerskoene opgehang nie en is ook betrokke by afrigting.

Volgens Louise is dit wonderlik wanneer ‘n kind hard werk en jy die trots op hul gesigte sien, veral wanneer hulle hul eie verwagtinge oortref.

Sy het verduidelik dat kinders so lank as moontlik kaalvoet moet hardloop, maar dit hang af waar die kinders oefen omdat baie klubatlete op tartan oefen en die oppervlak baie warm word.

Louise het verduidelik dat kinders nooit hul atletiekdrome moet prysgee nie.

“Jy moet bly oefen want almal is wenners. Jy moet vir jouself ‘n doel stel. Jy mag dit dalk nie dadelik bereik nie, maar elke geleentheid kom met tyd.”

Sy het verduidelik dat die sport dissipline verg van die atlete en die ouers wat die oefening betref, en dat ouers hul kinders getrou na die oefeninge toe moet neem.

“Daar moet ook ‘n streng program gevolg word as hulle regtig wil hê dat hul kinders iets moet bereik. Roetine word gebou deur dissipline.

“Ek oefen elke dag, vyf dae ‘n week. Dit kan reën of sneeu maar ek sal oefen. Ek glo ‘n kind moet ook in die hitte van die dag, en op die koudste tyd in die winter oefen. So bou hulle hul imuunstelsels op en is ook gesonde kinders.

Louise het vertel dat sy altyd betrokke is by al die kinders wat sy afrig om ‘n kind reg te help, want ‘n afrigter maak of breek ‘n atleet. Die kinders sal altyd onthou hoe jy hulle gehelp het om hul drome te bereik.

“Ek rig atletiek af vir kinders van sewe tot op hoërskoolvlak. Dit is my passie en ek doen dit omdat ek nooit die kans gegun is om my drome te bereik nie. Ek wil graag hê dat elke kind sy of haar drome bereik, al vorm ek net die grondfase van elke kind. Kinders moet steeds kinders kan wees. Atletiek moet nie ‘n straf vir hulle wees nie, maar lekker oefening wat hulle ontwikkel tot die beste van hul vermoëns.”

Exit mobile version