Local sportSport

Plaaslike dogter verskyn binnekort in ‘n kortfilm en dansmusiekblyspel

Bianca Redelinghuys het onlangs geoudisie vir Lyftaal deur ABS produksies van Antonie Bougas.

‘n Plaaslike dogter se passie vir dans is besig om vir haar belangrike deure oop te maak.

Bianca Redelinghuys, 15, ‘n Graad 10-leerder by Hoërskool Riebeeckrand het onlangs ‘n oudisie gedoen vir Lyftaal van Antonie Bougas se ABS Produksies.

Haar ma, Hantie Redelinghuys het vertel dat haar dogter sedert sy ses is klopdans en hip-hop doen by Snapback Studios, en dat Bianca onlangs oudisies gedoen het vir Lyftaal en Speeltoneel.

“Lyftaal gee dansers die geleentheid om intense opleiding vir drie maande deur middel van drie werkswinkels te ondergaan. Na afloop van die werkswinkels word ‘n video gemaak van ‘n dansmusiekblyspel wat op nasionale televisie uitgesaai gaan word,” het Hantie vertel.

Die dansmusiekblyspel sal gechoreografeer word deur Izak Davel wat ook die werkswinkels aanbied.

Volgens Hantie gee Speeltoneel vir dramaliefhebbers en dansers die geleentheid om saam met bekendes soos Albert en Vilje Maritz, Desire Gardner en Izak in ‘n kortfilm te speel.

“Dit is die eerste keer dat Suid-Afrikaanse dansers ‘n geleentheid kry om hul talente in ‘n kortfilm op nasionale televisie ten toon te stel.”

Om in die kortfilm te speel moet Bianca eers ‘n verpligte dramakursus van vier maande volg. Haar mentor is Vilje wat elke maand ‘n werkswinkel sal aanbied en fokus op spesifiek kennis wat nodig is om ‘n sukses van die rol in die kortfilm te maak.

“Sy het in November die Lyftaal-oudisie by die Blou Hond-teater in Pretoria gedoen. Sy moes eers ‘n dansvideo na ABS Produksies stuur waarna hulle die dansers vir die oudisie gekies het. Sy moes ‘n bepaalde ritme kon hou, en is laat weet dat sy die oudisie geslaag het en in die dansvideo sal verskyn wat in Maart of April verfilm word.”

Bianca is toe genooi na die oudisie vir Speeltoneel in Pretoria ” … en sy het ‘n rol in ‘n kortfilm gekry wat tussen April en Junie verfilm word”.

Bianca het besluit om die oudisies te doen omdat gehore en beoordelaars veral verlede jaar laat blyk het dat sy op die verhoog hoort.

“Dit is haar droom om ‘n rol in dansflieks te speel, en ABS Produksies het vir haar die geleentheid gegee om veral in Afrikaans haar passie uit te leef.”

Bianca het vertel dat sy geëerd voel om met ‘n danstalent geseënd te wees en om die geleentheid te kry om haar droom uit te leef.

Hantie het vertel dat hul borskaste nie groot genoeg is om hul trots vir Bianca te wys nie, en dat Bianca alles insit wanneer sy op die verhoog is.

“Ons is dankbaar dat ons haar kan ondersteun en haar grootste aanhangers kan wees. Bianca is veral vir haar kleiner sussie, Anke,‘n groot rolmodel.”

Related Articles

Back to top button