Local sportSport

Jannas- en Riebeeckrand stamp kop ‘n laaste keer vanjaar

Riebeeckrand en Jannas se o.15's asook eerstespanne het vir die laaste keer vanjaar kragte op die rugbyveld gemeet. Afrigters se kommentaar asook uitslae hier.

Twee van die dorp se top skole, Hoërskool Riebeeckrand en Hoërskool Jan Viljoen het op Donderdag, 16 September vir ‘n laaste keer vanjaar koppe op die rugbyveld gestamp.

Albei skole se o.15’s asook hul eerstespanne was dié dag in Jannas se agterplaas in aksie. Dit was ‘n opwindende middag en spelers van albei skole het geveg tot die einde al was die telbord nie altyd aan hul kant nie. Riebeeckrand se o.15’s was met 97–0 baas terwyl Jannas se eerstespan 36–5 koning gekraai het.

Zack Smit in aksie. Foto: Michelle Roodt.

Riebeeckrand-sportbestuurder Janco Tiedt asook een van die o.15-afrigters het vertel dat hulle dankbaar is dat die seuns weer kon speel.

“Daar was ‘n lekker gees onder al die spanne, en dit bring daardie broederband weer terug. Ons het rugby die laaste tyd gemis. Die seuns was uit hul velle om weer ‘n wedstryd te kon speel, en dit het vir groot opwinding gesorg. Hulle is honger vir rugby en ons sien reeds uit na 2022,” het Janco vertel.

Volgens Janco is alles hopelik dan terug na normaal en dan kan hulle weer voluit gaan.

“Die seuns moet aanhou speel en hard werk; dit was moeilik die laaste twee jaar met Covid-19 maar hier is baie talent in Randfontein en ek hoop ons kan die talent by ons plaaslike skole hier hou. Ons wil hê die ouers moet weer hul seuns kom ondersteun en sodra ons die geleentheid kry sal ons alles insit. Dit is die klein goedjies wat ‘n mens mis, en eintlik ‘n groot rol speel,” het Janco gesê.

Dean Nel hardloop met die bal. Foto: Michelle Roodt.

Chris-Juan Ras, Jannas se o.15-afrigter het vertel dat hulle uitgesien het na die kragmeting en dat dit goed was om weer twee van die dorp se groot skole op die rugbyveld in aksie te sien.

“Dit was weer lekker om die seuns te sien speel en hulle staal te wys. Dit was `n kort maar baie produktiewe seisoen, en ons o.17A-span het al hulle wedstryde gewen teen onder andere Hoërskool Linden, Hoërskool Bekker en nou Hoërskool Riebeeckrand,” het Chris-Juan vertel.

Nelson Ntshwaxu word gekeer deur Stehan Rolfe. Foto: Michelle Roodt.

Hy het gesê rugby beteken baie vir die seuns, personeel en ouers van Jannas.

“Toe rugby weer kon aangaan, het die beheerliggaam dit aan die ouers en afrigters oorgelaat om te besluit of Jannas sou speel, en die reaksie was natuurlik eenparig. Om rugby te speel beteken meer as net `n bal op ‘n veld rondskop, dit is ook weer `n vorm van normaliteit en die seuns het dit baie geniet om weer hulle gunstelingsport te speel,” het hy gesê.

Hy het vertel hulle sien daarna uit om weer volgende jaar weer hul staal op die rugbyveld te kan wys en weer aan ligawedstryde deel te neem.

Related Articles

 
Back to top button