Local sportSport

Wedstryde weens Covid-19 by Teine gestaak, oefeninge duur wel voort

Soos ander klubs in Gauteng het Randfontein Rugbyklub se jeugafdeling besluit om wedstryde te staak vir die res van die seisoen. Oefening duur wel voort.

Alhoewel daar geen wedstryde gaan wees vir die spelers van die Randfontein Rugbyklub nie, is hulle steeds gereed om die jong spelers besig en fiks te hou met oefeninge.

Riaan Eloff , waarnemende voorsitter van Randfontein Rugbyklub se Juniors, en afrigter van die o.12’s en die o.13’s het vertel dat die klub besluit het om, soos ander klubs in Gauteng, te onttrek aan die res van 2021-seisoen.

Heinrich Eloff in aksie. Foto: Michelle Roodt.

Dit was vir almal ‘n moeilike besluit, en hy is teleugesteld dat daar nie meer wedstryde gaan wees nie.

“Ek kry ‘n knop in my keel as ek daaraan dink dat ons moes onttrek uit die 2021-seisoen omdat ek weet die seuns is honger vir wedstryde, veral omdat daar ook min, selfs geen wedstryde by skole gespeel is nie.

“Ons spelergetalle is nie na wense nie, en Covid-19 het ook ‘n groot impak op die klub, spelers en huisgesinne.”

Hy het vertel dat hulle aanhou oefen omdat dit belangrik is dat die spelers reg deur die jaar rugbyfiks bly.

“Wie weet, party van die jong spelers is dalk môre se Springbokke.

“Ek voel hoe meer liefde en kennis ‘n speler vir die spel ontwikkel hoe beter sal hy uiteindelik wees. Al hoe jy daardie liefde vir die spel kan kweek is om aan te hou met oefen, maak nie saak wat jou omstandighede is nie.”

Heinrich Eloff gooi die bal. Foto: Michelle Roodt.

Volgens Riaan is dit in tye soos dié dat hulle moet wys wat in hulle steek, en dat hulle nie sal gaan lê nie.

Hy het alle spelers in die ouderdomsgroepe van o.7 tot o.18 genooi om hul talente by die klub te kom ontwikkel.

“Daar het in die verlede ‘n paar dogters kom saam oefen, en ek was verbaas met die talent onder hulle. Ander klubs het ook dogters in hul spanne en hulle vaar baie goed teen die seuns.”

In die lig van die planne en idees wat hulle vir die juniors van 2022 het, en met die hulp van die Hemelse Vader, is Riaan vol vertroue dat Randfontein se Jeugrugby weer gaan opstaan en hoër hoogtes bereik.

“Die spelers en ouers is ook baie teleurgesteld omdat daar nie meer wedstryde is nie, en alhoewel dit ‘n inpak op hulle het, is die gees sterk onder almal wat betrokke is, en ons oefen soos in die verlede aan fiksheid, kondisionering, vaardighede, tegniek en posisie-identifisering.”

Hulle oefen tans van Maandae tot Donderdae van 17:30 tot 18:30 by die Randfontein Rugbyklub waar streng Covid-19 regulasies gevolg word om dit so veilig as moontlik vir spelers en afrigters te maak.

Die Junior Rugbyklub het ook lede vir hul komitee nodig. Enigiemand wat lief is vir die spel, die belange van die dorp en sy jeug op die hart dra, en voel dat hulle kan help om die spelers en die klub na nuwe hoogtes te lei, word genooi om aansoek te doen.

Indien jy belangstel om op die komitee te dien of om spelers af te rig, kontak vir Riaan by 083 640 7070 of per epos by riaanegwb1@gmail.com.

Related Articles

Back to top button