Ontmoet R’fontein se eie Gladiator

Sonet Behr is ook betrokke by teenboelieveldtogte.

Sonet Behr, 27, is een van die nuwe generasie Gladiators wat deur die land toer as deel van ‘n teenboelieveldtog.

Sy voel dat sy as ‘n Gladiator baie groot skoene het om te vul.

“Die Gladiators van 20 jaar terug was almal se helde en ek wil beslis niemand teleurstel nie. Ek is baie opgewonde oor die TV-reeks wat begin en ek sien uit na wat die nuwe aanspraakmakers het om aan te bied.”

Sy het gesê sy kan nie genoeg dankie sê vir die geleentheid nie, omdat sy baie hard werk en ‘n sukses gaan maak van haar rol as Adira. Sy is een van die Gladiators wat moet seker maak dat die opponente nie by hulle verbykom nie.

“Ek het ‘n baie sterk ondersteuningstruktuur en dit maak my nog meer opgewonde.”

Sy het self kinders en daarom lê die teenboelieveldtog haar so na aan die hart. Sy gaan van die Vrystaat tot in die Oos-Kaap met leerders praat oor boelies, hulle bewus maak van die verskillende tipes boelies, en hoe om hulself teen hulle te beskerm.

“Ek probeer boelies inspireer om ‘n held te wees in plaas van ‘n boelie, want om ‘n boelie te wees maak jou nie ‘n beter persoon nie.”

Sonet Behr is deel van die Gladiator-reeks. Foto: Ingestuur.

Sonet probeer kinders wat geboelie word oorreed om hulp te vra, want dit is al hoe die situasie in skole gaan verbeter.

“Kinders by skole het agterna met my gepraat en my hulp gevra, en ek het hulle met liefde gehelp.”

Sy het vertel dat daar nog baie skole is wat iemand van buite nodig het om met die leerders te praat. Sy glo vas dat die probleem van kleintyd af reeds begin, en dit moet so gou as moontlik stopgesit word.

Sonet het besluit om aan Gladiators deel te neem omdat sport sedert haar skooldae haar lewe was. Sy was ‘n atleet en top netbalspeler.

“Ek het alle tipes sport beoefen – ek moes nog net rugby gespeel het dan kon ek alles op my lys afmerk. Ek streef na ‘n lewe van fiksheid.”

Sy is tans besig met radio- en televisie-onderhoude om die handelsmerk te bou en as deel van die teenboelieveldtog.

“Ek is werklik geseënd om deel te wees hiervan; as ek ‘n verskil in iemand se lewe kan maak, is ek ‘n gelukkiger mens.”

Volgens Sonet sal hulle binnekort bekend maak waar daar na die reeks gekyk kan word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version