Local sportSport

Rugby is Theo se passie

Ontmoet vir Theo Calitz wat al vir die afgelope 16 jaar vir Randfontein Rugbyklub uitdraf.

Die 34-jarige Theo Calitz, heelagter van Teine se eersterugbyspan speel al vir die afgelope 16 jaar vir Randfontein Rugbyklub. Hy het nog geen begeerte om sy tokse op te hang nie.

Sy liefde vir rugby kom al van kleintyd af. Hy het vertel dat hy die afgelope 26 jaar rugby speel nadat hy in Graad 2 by Laerskool Rapportryer met bulletjierugby begin het.

Theo Calitz speel al vir die afgelope 16 jaar vir die Randfontein Rugbyklub. Foto: Michelle Roodt.

Volgens Theo is rugby sy passie juis omdat dit ‘n mens dissipline leer.

“Rugby is vir my uniek omdat jy soveel vriende maak – op en van die veld af.”

Theo het vertel dat hy op Dinsdae en Donderdae rugby oefen, en hoewel dit gewoonlik nie vir hom saak maak watter tipe oefeninge hy doen nie, hou hy nie eintlik van fiksheidsoefeninge nie.

Theo Calitz speel al vir die afgelope 16 jaar vir die Randfontein Rugbyklub. Foto: Michelle Roodt.

Hy het al heelwat prestasies in rugby behaal. Hy het onder andere vir vyf jaar vir die Lions Subunie gespeel, twee jaar vir die Lions 7’s, twee jaar vir Lions Amateur, twee jaar vir die Kwaggas, en drie jaar vir die Western Lions.

“Twee hoogtepunte in my rugbyloopbaan is toe ons die Subunie-toernooi teen die Griffins gewen het, en die Castle Bowl omhoog gehou het.”

Theo is ‘n areabestuurder vir Pest Control en wanneer hy nie op die rugbyveld is nie hou hy homself besig by sy huis. Hy braai graag saam met vriende.

Related Articles

Back to top button