Die Rand West Darts Association praat oor pyle

Die Herald het by die Rand West Darts Association gaan kuier om meer oor die sport uit te vind.

Veerpyltjies is ‘n bekende tydverdryf in Randfontein en ook ‘n sport – en nee, dit is nie net vir dié wat te diep in die bottel kyk nie.

Die Herald het verlede week by die Rand West Darts Association gaan kuier om meer oor die sport uit te vind.

Volgens Johan Vermeulen, president van die klub, kan veerpyltjies op verskillende maniere gespeel word. Tydens kompetisies word 501 enkels en 701 dubbels gespeel, maar vir die pret of oefening is killers ‘n gunsteling.

Hy het ook vertel dat dit ‘n baie maklike sport is om te beoefen, maar dit is ‘n pluspunt as jy ‘n natuurlike gawe daarvoor het.

Volgens Johan is die Rand West Darts Association tans die enigste geregistreerde veerpyltjieklub in Randfontein, maar baie spelers beoefen die sport vir ontspanning en pret by hul huise.

Oor die stigma dat drankgebruik met die spel geassosieer word, het hy gesê dat dit glad nie waar is nie.

“Ons klub het baie spelers wat glad nie alkohol gebruik nie, en soos met enige sport het ons reëls en regulasies wat ons moet volg omdat juniors betrokke is.”

Die pandemie het dinge by die Rand West Darts Association, wat in Januarie 2019 gestig is, ‘n bietjie laat stilstaan, maar hulle is nou vuur en vlam om die klub en sy ledetal te laat groei.

“Die sport is vir die hele gesin, oud en jonk, en ons veerpyltjiegemeenskap verwys daarna as ‘n familiesport.”

Keanu Bezuidenhout en Hennie Nortje. Foto: Michelle Roodt.

Hy het vertel dat hul jongste speler op die ouderdom van agt sosiaal speel, en hulle het twee juniors asook vroue wat die sport beoefen.

Wat kompetisies aanbetref het hy verduidelik dat daar altyd ope kampioenskappe is tussen verskillende assosiasies en provinsies, en hulle speel ook in ligas en neem aan die Suid Afrikaanse kampioenskappe deel om spanne te kies wat by die Wêreldbeker gaan deelneem.

“Veerpyltjies is ‘n sport waar wiskunde gebruik word want ons moet vermenigvuldig, deel, optel en aftrek, en dit help ons juniors baie.”

Die Rand West Darts Association se ledegeld beloop R300 vir seniors, en vir juniors is dit gratis.

Hulle speel liga op Donderdae-aande, en op Saterdae speel hulle sosiale veerpyltjies.

• Navrae: Johan by 082 411 6766.

Exit mobile version