Teine opgewonde oor stelselmatige kontakoefeninge

Randfontein Rugbyklub is klaar met fase een en begin nou met fase twee wat beteken hulle kan stelselmatig terugkeer na kontakoefeninge.

Randfontein Rugbyklub kan uiteindelik hul tokse afstof en regmaak om stelselmatig terug te keer na kontakoefeninge.

Die spelers het op Dinsdag, 16 Maart vir die eerste keer in maande weer met ‘n rugbybal geoefen en basies hul balvaardighede opgeskerp. Hulle het vooraf vir minstens vier weke lank fiksheid- en kondisioneringsoefeninge gedoen waartydens spelers glad nie mag kontak gemaak het nie.

Klubbestuurder Lulu Kleyn het vertel dat hulle klaar is met hul vier weke van fase een, en nou kan begin fokus op fase twee wanneer hulle stelselmatig terugkeer na kontak. Hulle kan reeds die stampsakke en duiksakke gebruik.

“Die enigste plek waar sukses voor werk staan is in die woordeboek, en ons as spelers en bestuur van Randfontein Rugbyklub het besluit om hard te werk en die klub weereens suksesvol te maak,” het Jannie van Loggerenberg, President van Randfontein Rugbyklub vertel.

Lulu het gesê dat nuwe en ou spelers meer as welkom is om te registreer en deel te word van die Teine-rugbyfamilie.

• Navrae: Lulu by 071 678 0745.

Exit mobile version