Local sportSport

Die Teine-trui is sy trots

Rudi Marx speel al vir die afgelope 12 jaar vir die Randfontein Rugbyklub se eerstespan.

Na 18 jaar by die Randfontein Rugbyklub sien die 31-jarige Rudi Marx baie daarna uit om weer in sy Teine-trui op die veld te kan draf.

“Ek oefen elke dag by die huis om fiks te bly, maar ek kan nie wag dat die grendeltyd eindig sodat ek weer vir die klub kan speel nie, want dit was nog altyd ‘n voorreg om die trui oor my kop te trek,” het die Teine se eerstespansenter gesê.

Hy het na skool sy senior rugbyloopbaan by die Universiteit van Pretoria voorgesit. Rudi is driekeer vir die Goue Leeus se Subunie-span gekies, vierkeer vir die Goue Leeus Amateurspan en vierkeer vir die Goue Leeus 7’s-span. Hy het ook al vir die Kwaggas en vir die Limpopo Bulle-amateurspan gespeel.

Daar was al baie hoogtepunte in my rugbyloopbaan, maar wat vir my die meeste uitgestaan het, was om in 2019 saam met my pa vir die klub te kon speel.

“Ek het die bal vir hom gegooi en hy het ‘n drie gedruk. Dit was ‘n baie spesiale oomblik. Nog ‘n hoogtepunt vir my was toe die klub in 2016 vir Roodepoort in die Castle Bowl Challenge gewen het terwyl ek kaptein was.”

Randfontein Rugbyklub se Rudi Marx in aksie voor die grendeltydperk. Photo: MM Photography

Op 31 het Rudi al 198 wedstryde vir die klub gespeel sedert hy in 2002 by hulle aangesluit het en hy speel vir die afgelope 12 jaar vir die eerstespan.

“Ek dink ek was ses toe ek begin rugby speel het. Ek kom uit ‘n groot rugbyfamilie; as daar rugby gespeel kan word, dan speel ons. Rugby is ‘n groot deel van my lewe en dit het my baie lewenslesse geleer. Ek geniet dit ook om saam met ‘n klomp vriende te kan speel. Wanneer ek nie self op die veld is nie, geniet ek dit om Nieu-Seelandse rugby te kyk.”

Rudi en sy pa het ‘n konstruksiebesigheid, en in sy vrye tyd vang hy graag vis en jag.

“Ek en Leani is al vyf jaar getroud en ons het twee seuns, Arlo en Dewan. Dié twee ondersteun my elke naweek langs die veld en hul liefde vir rugby is so groot soos hul pa s’n,” het hy bygevoeg.

Related Articles

Back to top button