Local sportSport

Glorie vir Poorte, Raiders en UJ by Randfontein 7’s

Roodepoort, Universiteit van Johannesburg (UJ) en Raiders is bekerwenners in hul onderskeie afdelings tydens vanjaar se Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) sewestoernooi wat in Randfontein gehou is.

Randfontein Rugbyklub was gasheer van ‘n Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) Sewestoernooi wat van Saterdag, 22 Januarie tot Sondag, 23 Januarie by Hoërskool Riebeeckrand plaasgevind het.

‘n Totaal van 20 seniorspanne, 16 o.20-spanne en vyf vrouespanne van Pirates, Universiteit van die Witwatersrand (Wits), Universiteit van Johannesburg (UJ), Alberton, Alexandra, Soweto, Randfontein, Roodepoort, Raiders, Khosa, Harlequins, Kagiso, JHB Polisie, Union, Southern Knights, Germiston Simmer, Diggers en Wanderers het deelgeneem.

Bennie Byleveldt hardloop met die bal.
Foto: Michelle Roodt.

Na twee dae se swoeg en sweet is Roodepoort as die o.20-wenners aangewys toe hulle vir Wits 19–5 in die eindstryd geklop het. Raiders is die vrouewenners met ‘n 19–5 sege oor UJ. UJ het daarna verlore aansien herwin toe hul seniors vir Raiders met 20–12 geklop het.

Wat Randfontein betref, het dit veral goed gegaan met die o.20’s. Hulle spog met oorwinnings oor Alexandra (28–0), Union (20–12) en Khosa (42–12) maar het daarna in die halfeindstryd teen Roodepoort, die uiteindelike kampioene in die afdeling,
19–5 verloor.

Themba Benningfield Mcunu van Roodepoort Rugby Klub.
Foto: Michelle Roodt.

Randfontein se Seniorspan 1 was aan die wenkant in een wedstryd toe hulle Harlequins van Krugersdorp met 37–0 afgeransel het maar het ongelukkig die knie gebuig voor Germiston Simmers (22–19), Wits (26–19) en Roodepoort (17–5). Randfontein se Seniorspan 2 het geen wedstryd gewen nie en het teen JHB Polisie (14–7), Raiders (45–0) en Diggers (29–0) verloor, asook naelskraap 26–25 teen Wanderers.

Related Articles

Back to top button