Local sportSport

Teine oor 2019 op en van die veld af

Randfontein Rugbyklub se grootkokkedore kyk na hul prestasies op die veld en van die veld af.

Die grootkokkedore in beheer van Randfontein Rugbyklub het tydens hul algemene jaarvergadering nabetragting gehou oor die wyse waarop die klub vanjaar op en van die veld af presteer het.

Op die agenda van die vergadering wat op Dinsdag, 12 November in Greenhills gehou is, was onder andere die finansiële verslag van 2019, die verkiesing van die nuwe komitee, asook die klub se prestasies.

Hennie van Eck, tesourier van die klub, het in sy verslag gesê dat daar vanjaar nie soveel borge soos in die verlede by die klub betrokke was nie en dat dit iets is waaraan hulle vir 2020 aandag sal moet gee. Dis noodsaaklik dat hulle meer inkomste vir die klub kry aangesien hulle vanjaar tekorte gely het.

Die lede van die komitee van die Randfontein Rugbyklub is voor van links: Corne Hulme (Visevoorsitter); Johan Cronje (Voorsitter), Jannie van Loggerenberg (President), Billy Vermeulen (Visepresident) en Lulu Kleyn (Klubbestuurder).
Agter van links staan Frank Naude, Rudy Janse van Rensburg, Henry Combrink, Hennie van Eck, en Michael Grobler. Theuns Pieterse staan heel agter. Afwesig: Willem de Beer.

Johan Cronje, voorsitter van die klub, het gesê dit was nie alles maanskyn en rose nie.

“Dit was glad nie maklik nie. Ons baklei om die klub se deure oop te hou en dit raak nou amper soos ‘n voltydse werk wat alles geld kos.”

Hy het bygevoeg dat waar dit in die verlede nie vir die klub nodig was om krag, water of huur betaal het nie, is dit nou ‘n vereiste.

“As die 2019-voorsitter het ek eintlik ‘n baie lekker jaar gehad, alhoewel daar baie drama was. Ons kan die klub laat voortbestaan met die komitee wat ons het. Ek wil baie dankie sê aan almal wat dié jaar by Teine betrokke was. Ek dink ons het ongeag die probleme regtig ‘n goeie jaar beleef en ons het groot planne vir 2020. Ons gaan hopelik baie veranderinge kan aanbring en ons groot plan vir 2020 is om ons fasiliteite op te gradeer. Dankie vir almal wat altyd betrokke is en ons bly ondersteun,” het Johan gesê.

Die nuwe komitee bestaan uit Jannie van Loggerenberg: President; Billy Vermeulen: Visepresident; Johan Cronje: Voorsitter; Corne Hulme: Visevoorsitter; Lulu Kleyn: Klubbestuurder; Hennie van Eck: Tesourier; asook Frank Naudé, Rudy Janse van Rensburg, Henry Combrink, Michael Grobler, Theuns Pieterse en Willem de Beer

Op sy beurt het Lulu verslag gedoen oor die rugbyspanne se vertoning op die veld. “Ons het van April tot Julie aan die Pirates Groot Uitdaagreeks deelgeneem. Ons het ongelukkig nie besonder goed gevaar nie, maar is dit moeilik om by universiteitklubs kers vas te hou. In dié reeks het ons spanne elk 10 wedstryde gespeel. Die onder 19’s het een wedstryd gewen, die onder 21’s drie, die Derdes twee, die Tweedes een en die Eerstespan drie,” het Lulu gesê.

“In die Bailey Cup Challenge het ons ses wedstryde gespeel en te staan gekom teen Pirates, JHB Polisie, Diggers en Alberton. Die o.19-span het een wedstyd gewen, die o.21’s twee, en die Eerstes, Tweedes en Derdes het elk drie wedstryde gewen. Die Eerstes het uiteindelik tweede geëindig, die Tweedes het in die semifinaal uitgeval en die Derdespan het die beker in hul finaal verower.

Die o.21’s het ongelukkig hul semifinaal verloor en die o.19’s het in die kwartfinaal uitgeval,” het Lulu vertel.

Related Articles

Back to top button