Local sportSport

Wes-Rand Hengelklub staan nog sterk

Die Wes-Rand Hengelklub is nou al meer as 20 jaar oud en gaan van krag tot krag.

As jy hoor dat iemand die woorde ‘dobbertjie’, ‘polisieman’, ‘gebreide lyn’, ‘aas’ of ‘boilie’ gebruik, kan jy dalk dink hulle is van lotjie getik.

Die lede van die Wes-Rand Hengelklub gaan egter dadelik weet waarvan jy praat, en dalk nog ‘n bietjie raad byvoeg.

Dié klub bestaan reeds meer as 20 jaar en in September het hulle die nuwe seisoen afgeskop. Een keer ‘n maand kom die sowat 30 lede bymekaar om aan kompetisies deel te neem en op 21 September het hul een daarvan by Oranjeville in die Vrystaat aangebied. Die top drie mans by die byeenkoms was Wiillie du Plessis, Charles Saunders en George Wheeler. Onder die vroue was dit Magda Opperman, Anja Meyer en Marietjie Strydom wat die top drie plekke beklee het. Marko Lourens, ylan Opperman en Miguel Menino het die telbord vir die juniors opgemaak.

Twee van hierdie geharde hengelaars, George en Charles, kom al 21 jaar saam met die klub.

George het vertel dat die klub in Maart 1998 gestig is en dat hy in Junie dieselfde jaar by die klub aangesluit het. Dit is volgens George sy gunstelingtydverdryf en die rustigheid van dié sport trek hom aan – dit en die wegkomkans wat dit van die daaglikse gejaag af bied.

Sy grootste vangs nog was ‘n 5,8kg-karp en die meeste visse wat hy nog gevang het was die 66 wat hy by die Vaaldam uitgetrek het. George se raad aan nuwe hengelaars is om net dit en die natuur te geniet.

Charles word in November 62 en is ook nagenoeg 21 jaar deel van die klub.

“Hier het ek oor die jare baie geleer, goeie vriende ontdek en besef dat dit veiliger is om saam met ‘n klub te hengel as alleen,” het hy verduidelik.

Hy het gesê dat dit die beste ontspanning is en mens van jou sorge laat vergeet. “Net jy en die natuur; dit laat mens goed voel.”

Sy grootse vangste was ‘n 11,6kg-baber by Rietspruitdam en ‘n karp van so 5,6kg. Sy raad aan nuwe hengelaars is om baie vrae te vra sodat hulle kan leer, om die hengel te geniet, en die natuur en vis te beskerm.

Indien jy by dié klub wil aansluit, skakel gerus vir Anja Meyer by 076 729 2801.

Related Articles

Back to top button