Rappies as Wes-Randse wenners in jukskei gekroon

Laerskool Rapportryer het die Wes-Rand Jukskeiskoleliga oorheers toe al ses hul spanne die liga gewen het. Twee spanne kwalifiseer nou vir die Direkteurstrofeetoernooi in Limpopo.

Laerskool Rapportryer het die penne behoorlik laat spat tydens die Wes-Rand Jukskeiskoleliga wat onlangs plaasgevind het.

Nadat die stof gaan lê het, is nie minder nie as 47 Rappies-leerders geïdentifiseer om aan die Wes-Randse proewe te gaan deelneem, waarna 29 leerders in die Wes-Randse span opgeneem is.

Danika Viviers en Schalk Brits, die kapteins van Rappies se twee o.13-spanne wat die liga gewen het.

Rappies se o.13A-seuns- en -dogterspanne is as ligawenners aangewys en gaan die Wes-Rand later vanjaar by die Direkteurstoernooi in Limpopo verteenwoordig.

Die seuns is Schalk Brits (kaptein), Henco de Lange, Zian Deysel, Wynand du Plessis en Heinrich du Plessis, terwyl die dogterspan uit Joamarie van der Westhuizen, Deandra Viviers, Elreze Enslin, Twané Oosthuizen en Danika Viviers bestaan.

Afgesien van dié twee spanne het vier ander Rappies-jukskeispanne, naamlik die o.13B-seuns en -dogters asook die o.11-seuns en -dogters ook die liga gewen.

Twané Oosthuizen, Leanie Benecke, Lizél Wilken (afrigter), Joamarie van deer Westhuizen, Danika Viviers en Ina Benecke (afrigter). Foto ingestuur.

“Daar was net ses afdelings en ons het al ses gewen,” het Lizél Wilken, Rappies se jukskei-organiseerder verduidelik.

Sy het hierdie sukses toegeskryf aan ‘n span toegewyde afrigters, positiewe ouers en talentvolle leerders wat Rappies se etos van 2019, naamlik “Glo jy kan”, ten volle uitleef.

Die Herald het per abuis die verkeerde foto by die artikel aangaande Rappies se jukskei met die opskrif ‘Rappies wen groot jukskeitrofee!’ in ons 21 September-uitgawe gebruik. Ons vra om verskoning vir die enige ongerief wat die fout veroorsaak het — Red.

Exit mobile version