Vier Riebeeckranders haal Provinsiale boogskietspan

Hoërskool Riebeeckrand lewer die afgelope paar jaar topgehalte boogskutters op wat uitstekend in hul kompetisies vaar.

Hoërskool Riebeeckrand spog met vier van hul leerders in die Provinsiale A-boogskietspan.

Hulle is Kristen Becker, Fanie Becker, Jayden Esterhuyzen en Leané van Zyl.

Daar word jaarliks 16 skuts uit al die skole in Gauteng gekies om deel te wees van die provinsiale boogskietspan. Deur die loop van die jaar gee die skutters hul beste om ‘n goeie puntetelling op te bou en op 17 Augustus was dit die skuts se laaste kans om punte bymekaar te maak om ‘n plek in die provinsiale span te probeer kry.

Volgens Elzeri Wright, skoolwoordvoerder gaan dié leerders saam met hul 12 spanmaats van 25 tot 27 September aan die Nasionale Kampioenskappe deelneem, en hoop om daar die Proteaspan te haal.

Riebeeckrand het verlede jaar drie skutters opgelewer wat in die Proteaspan opgeneem is en in Kanada aan die Wêreldkampioenskappe deelgeneem het.

“Ons wens die leerders sterkte toe met hul deelname aan die Nasionale Kampioenskappe en hou terselfdertyd styf duim vas dat hulle die Proteaspan sal haal.”

Exit mobile version