Riebeeckrand se twee Goue Leeus

Twee leerders van Hoërskool Riebeeckrand is in die o.18 Goue Leeus Akademie XV-span opgeneem.

Hoërskool Riebeeckrand is baie trots op twee spelers van hul eersterugbyspan wat tot die o.18 Goue Leeus Akademie XV-span verkies is.

Volgens Elzeri Wright, skoolwoordvoerder is die twee spelers Luke Myburgh en Tiaan Barnard.

“Dit is voorwaar ‘n besondere prestasie om deel van dié span te wees, aangesien honderde seuns aan die proewe deelneem,” het sy gesê.

Daar was drie rondtes proewe asook twee opwarmingswedstryde – teen onderskeidelik die Valke en die Blou Bulle – waartydens die spelers hul beste spel moes uithaal om die span te haal.

Luke is die trotse haker van die o.18 Goue Leeus Akademie XV-span en Tiaan die uitmuntende flank.

“Riebeeckrand wens die twee seuns sterkte toe met hul deelname aan die Akademie Week wat gedurende die skoolvakansie in Bloemfontein plaasvind,” het Elzeri bygevoeg.

Exit mobile version