Jannas se Arno en Angelique spring hoog en ver

Jannas is trots op Arno Jansen van Vuuren en Angelique van Niekerk wat veral in onderskeidelik hoogspring en driesprong uitgeblink het.

Twee atlete van Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) het vanjaar uitgestaan in hoogspring en driesprong.

Arno Jansen van Vuuren is een van Jannas se topatlete en het juis onlangs groot hoogtes in hoogspring bereik.

“Ek het in Maart aan die Gauteng Kampioenskappe deelgeneem waar ek ‘n sesde plek in die hoogspring gekry het. Sowat 40 atlete het aan die item deelgeneem en is uitgedun tot 12. Die volgende dag het ons weer gespring en ek het toe die sesde plek gekry,” het hy gesê.

Hy neem al drie jaar aan die kampioenskappe deel en het gesê dat die kompetisie vanjaar baie taai was.

“Ek gaan vir eers my rugbyloopbaan opsy sit, en my lyf laat rus en voorberei vir volgende jaar se atletiek, want ek wil weer aan die Gauteng Kampioenskappe deelneem.”

Angelique van Niekerk is Jannas se ander topatleet en veral ‘n driesprong-ster. Sy is ook die kaptein van die eerstenetbalspan.

“Ek het in Port Elizabeth aan die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekkampioenskappe deelgeneem. Ek het eerste plek by die Gauteng Kampioenskappe gekry en ‘n rekord geslaan,” het Angelique gesê.

Sy het vyfde by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe geëindig.

“Ek lewe vir driesprong, dit is my passie,” het sy bygevoeg.

“Jannas is ongelooflik trots op al ons atlete,” het Tammy Smith, skoolwoordvoerder, gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version