Local sportSport

Vreugde in die kryt vir Rodrigues

Frank Rodrigues het op 16 Maart met die Gauteng-ligswaargewigtitel weggestap.

Die 21-jarige Frank Rodrigues het onlangs die titel van Gauteng-ligswaargewigkampioen verower.

Hy het op Saterdag, 16 Maart sy grootste geveg nog by Emperors Palace gewen toe hy in die 10de rondte vir Michael Markham deur ‘n eenparige punteoorwinning geklop het.

Frank Rodrigues in aksie. Foto: Christo Smith Photography

“Ek het hom voor ’n klomp van sy aanhangers gewen nadat ek hulle van rondte een af stilgemaak het toe ek elke rondte gewen het. My volgende groot geveg is om die Suid-Afrikaanse ligswaargewigtitel wat binnekort gaan plaasvind,” het Frank gesê.

Die boksgogga het hom gebyt toe hy deur sy broers, Fransisco en Fernando se liefde vir dié sport geïnspireer is. Hy was net 14 jaar oud toe hy begin boks het.

Sy rolmodel is die Suid-Afrikaner Kevin Lerena, die Internasionale Boksorganisasie se ligswaargewigkampioen.

“My gunstelingaspek van boks is dat God my ’n talent gegee het om dit te kan doen en dis ‘n bonus dat ek dit geniet om fiks en aktief te wees. My loopbaandoelwit is om soos my rolmodel ’n internasionale titel te wen.”

Frank Rodrigues in aksie. Foto: Christo Smith Photography

Hy het gesê dat dit baie harde oefening en dissipline verg om vir ‘n boksgeveg voor te berei. Hy het vertel dat hy net aan boks dink voordat hy in die bokskryt klim. Hy en Fernando oefen saam en ry elke oggend na Alan Toweel Boksgimnasium toe in Linden om te gaan oefen. Hulle oefen teen mekaar en Alan Toweel is hul afrigter.

“My hele familie hou baie van die sport en ons volg alle groot boksgevegte op televisie saam met my pa. Hy is self ook ‘n groot aanhanger van die sport.”

Related Articles

Back to top button