Eagles maak opslae by R’fontein Skou

Die Eagles Stoeiklub het baie goed presteer tydens die Sentraal-Gauteng Stoeivereniging se toernooi wat op 2 Maart by die Randfontein Skou plaasgevind het.

Die stoeiers van die Eagles Stoeiklub in Randfontein het uitstekend gevaar tydens ‘n toernooi wat by die onlangse Randfontein Skou gehou is.

Volgens Riaan Groenewald van die klub het hulle saam met ses plaaslike stoeiklubs aan die Sentraal-Gauteng Stoeivereniging se toernooi op 2 Maart deelgeneem.

Agter is Gawie Erasmus, hoofafrigter met Carl Barnard, Chanelle Groenewald, Aldre Groenewald en die tweede ry en Dian Kruger, Deano Kruger, AJ van der Westhuizen, met Dean van Rooyen voor. Foto: Ingestuur

Die klub is trots op elkeen van die volgende stoeiers wat deelgeneem het, naamlik Dian Kruger (o.5); Deano Kruger (o.9); AJ van der Westhuizen (o.10); Dean van Rooyen (o.10); Carl Barnard (o.17); Aldré Groenewald (o.17); Chanellé Groenewald (o.17); en Gawie Erasmus (ouer as 17).

“Die Eagles Stoeiklub was bevoorreg om agt goeie stoeiers tussen vyf en 30 jaar oud te kon inskryf. Almal wat aan die toernooi deelgeneem het, het ‘n medalje ontvang wat spesiaal vir die Randfontein Skou ontwerp is. Al die stoeiers het goed gestoei en ons as klub is baie trots op hulle,” het hy gesê.

Deano Kruger in blou stoei met sy opponent. Foto: Ingestuur

Volgens hom was die kompetisie baie taai en al die stoeiers moes op die mat uithaal en wys waartoe hul in staat is. Die toernooi was so ‘n groot sukses dat dit moontlik ‘n jaarlikse instelling gaan word.

“Dit was die eerste keer dat hierdie toernooi by die Skou gehou is. Die beplanning moes haarfyn gedoen word, aangesien die Skou daarvoor bekend is dat dit gewoonlik reën bring, maar gelukkig het die weer baie mooi saamgespeel. Die terugvoering van die ouers, beplanners en stoeiers was baie positief en dit kan moontlik ‘n jaarlikse instelling by die Skou word.”

Gawie Erasmus, hoofafrigter en Dian Kruger met sy medalje. Foto: Ingestuur

Riaan het gesê dat die jaar propvol toernooie is waarna hul uitsien.

“Die grootste toernooie waaraan ons stoeiers gaan deelneem is natuurlik die Senior Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Middelburg aan die einde van Junie, waar drie van ons seniors gaan deelneem, sowel as die Junior Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Pretoria aan die einde van September. Ons oefen hard om drie van ons juniors vir die eerste keer na die laasgenoemde toernooi te stuur,” het Riaan bygevoeg.

Exit mobile version