Local sportSport

Ram kry sy eie boogskietspan

Boogskiet is baie gewild en die belangstelling onder die jong skuts so groot dat die afrigters soms nie genoeg boë het vir almal om mee te oefen nie.

Laerskool Randfontein bied vir die eerste keer in die skool se bestaan boogskiet as ‘n sport aan.

“Boogskiet is ‘n sport waar pyle met ‘n gesnaarde boog na ‘n teiken geskiet word. Vroeër was die boog hoofsaaklik ‘n jag- en oorlogswapen, maar deesdae is boogskiet meestal ‘n konsentrasiesport, hoewel daar in sekere lande soos Suid-Afrika en die Verenigde State nog met boë gejag word,” het skoolwoordvoerder Annie Nolan gesê.

Volgens Annie is die sport baie gewild en die belangstelling onder die jong skuts so groot dat die afrigters soms nie genoeg boë het vir almal om mee te oefen nie.

Deanay Esterhuizen en Rikus Thiart is die belowendste skuts in die span. Foto: ingestuur

“Die oefeninge vind plaas by Klub Inyathi se baan onder die leiding van Andre Esterhuizen en Frik Brikenstock. Ek is die verteenwoordiger van die skool en hou ‘n oog oor die skuts.”

Die skuts het aan die einde van 2018 begin oefen en vroeg vanjaar aan hul eerste kompetisie deelgeneem. Daar is reeds vier kompetisies agter die rug en die skuts se punte lyk goed.

“Die skool se span het van ‘n vierde plek na ‘n tweede plek opgeskuif. Daar word nou hard geoefen vir die eerste plek. Die Ramkat-boogskietspan het op Saterdag 23 Februarie hul tweedeplek-medaljes ontvang.

“Dit was voorwaar ‘n trotse oomblik vir die skuts wat nog net twee maande lank oefen. Leon Haupt, die skoolhoof, is uiters trots op die jong skuts en verwag nog groot hoogtes van hulle,” het sy gesê.

Die volgende kompetisie vind op Saterdag 9 Maart op Ram se velde plaas en dié geleentheid is ook Klub Inyathi se 10de verjaarsdag.

Daar is altesaam 20 kompetisies waaraan die skuts deur die jaar kan deelneem. Die twee hoofafdelings is ‘Bulls eye’ wanneer daar na ‘n sirkelteiken geskiet word, en dan ook ‘3D’, waar die skuts na ‘n driedimensionele teiken in die vorm van ‘n vlakvark, bobbejaan of hiëna skiet.

Related Articles

Back to top button