Ons het groot planne vir 2019 – Teine

Randfontein Rugbyklub het tydens hul jaarlikse algemene vergadering hul planne vir die 2019-seisoen onthul.

Die Randfontein Rugbyklub (Teine) het op 22 Oktober hul algemene jaarvergadering by die rugbyklub gehou.

Tydens dié vergadering is die Teine se finansies, samestelling van die komitee asook vooruitsigte vir 2019 bespreek. Lede het die vergadering met groot opgewondenheid oor die nuwe seisoen afgesluit.

“Dit was maar ‘n rowwe seisoen,” het Johan Cronje, 2018 se instaan-voorsitter gesê. “Hoewel die Teine se vriendskaplike wedstryde goed verloop het, het die eerstespan nie een wedstryd dié seisoen gewen nie. Daar is egter goeie vooruitsigte, want Deon van Rensburg gaan vir ‘n termyn van twee jaar die eerstespan afrig.

“Spelers wat gekies is vir die Zambië Sewes het goed gespeel en hulle het vierde geëindig. Die juniors het ook vanjaar baie goed gevaar en hulle het eers in die semifinale uitgeval,” het hy gesê.

“Die Teine het ongelukkig ook nie baie goed gespeel in die Goue Leeus se sewestoernooi nie, maar ons deelname het gehelp dat ons gekies is om dit volgende jaar hier aan te bied.

“Die komitee het in 2018 die losie en die pawiljoen geverf. Ons wil graag die pale en die veld netjies hou vir die Goue Leeus se sewestoernooi. Ons mikpunt is om so ‘n goeie indruk te skep dat hulle in 2020 weer op ons tuisveld sal wil speel,” het Johan gesê.

Henry Combrink, klubkaptein vir 2019 is saam met Frans Vorster en Erens Oelsen baie opgewonde oor die nuwe seisoen.Foto: Jaco-Mari Futcher

Volgens die finansiële verslag het die klub dié jaar ongelukkig ‘n verlies gely, maar die kroeg is steeds die grootste bron van inkomste en dit groei steeds. Die klub het ook vanjaar vir die eerste keer ‘n tesourier aangewys wat die finansiële verslag sal nagaan. Die tesourier sal ook maandlikse verslae opstel sodat die klub te alle tye sal weet hoe die finansiële sake staan.

Johan het gesê dat die rugbyklub moontlik volgende jaar hul gebou tydens die Randfontein Skou gaan verhuur vir ‘n ekstra inkomste.

Ongelukkig was daar in 2018 ‘n stryery tussen afrigters en komiteelede, en daar moes dringend ‘n vergadering gehou word om dit uit te klaar. ‘n Nuwe komitee vir 2019 is tydens die vergadering op 22 Oktober gekies en die meeste van 2018 se komiteelede is herverkies.

Die komitee vir 2019 lyk so:

• President: Billy Vermeulen

• Voorsitter: Johan Cronje

• Adjunkvoorsitter: Corné Hulme

• Klubbestuurder: Mara Conradie

• Klubkaptein: Henry Combrink

• Tesourier: Hennie van Eck

• Komitee: Frank Naudé, Sylvester Engelbrecht, Michael Grobler

• Buitekomitee: Rudy Janse van Rensburg en Ryno Bosman

Die komitee is reg om 2019 ‘n jaar te maak wat die rugbyklub nie gou gaan vergeet nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version